Spring na inhoud

12 MAART 2015
DEMOKRATIESE REPUBLIEK VAN DIE KONGO

Die Demokratiese Republiek van die Kongo verbied godsdiensdiskriminasie in skole

Die Demokratiese Republiek van die Kongo verbied godsdiensdiskriminasie in skole

“Vir die Nasionale Onderwys is dit ’n noodsaaklike [prioriteit] om teen diskriminasie en ongelykheid te stry.”—Kantoor van die Onderwysdepartement se Sekretaris, 12 Junie 2014.

Getuiekinders in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) is jare lank uit skole geskors wat deur ander godsdiensorganisasies gefinansier is, omdat hulle nie aan godsdiensprogramme deelneem nie. Die probleem het ontstaan omdat die skole hulle interne reëls bo staatsregulasies gestel het en die regte van Getuieleerders geïgnoreer het. Die Kongolese owerheid het die ongeregtigheid erken en het bevestig dat almal die reg het op ’n opvoeding vry van diskriminasie.

Kerkgefinansierde skole volg interne reëls, nie staatsregulasies nie

Godsdiensorganisasies het ooreenkomste met die Kongolese regering aangegaan om openbare skole te finansier in gebiede waar dit nodig is. Die ooreenkomste sê duidelik dat “kinders beskerm moet word teen gebruike wat godsdiensdiskriminasie en -onverdraagsaamheid bevorder”. Die skole wat deur kerke gefinansier is, het egter dikwels interne reëls gehad wat vereis het dat leerders godsdiensprogramme bywoon en daaraan deelneem. Van hierdie skole het daarop aangedring om hulle interne reëls te implementeer en het sodoende hulle ooreenkoms met die staat asook die leerders se reg op godsdiensvryheid geminag.

Die probleem het in 2005 duidelik geword, toe 52 Getuieleerders uit ’n kerkgefinansierde skool in Abumombazi, Equateur-provinsie, geskors is omdat hulle verskoon wou word van kerkdienste wat deur die skoolowerheid gereël is. Die probleem het vererger toe kerkgefinansierde skole in ander provinsies dieselfde gedoen het. Mettertyd is meer as 300 Kongolese Getuieleerders van alle grade geskors, insluitende dié wat amper klaar was met skool.

Die 13-jarige Kanyere Ndavaro, wat in 2009 ten onregte uit die skool geskors is, het geskryf: “Ek is baie hartseer oor die negatiewe gevolge wat dit op my lewe sal hê. Ek weet nie wat die toekoms vir my inhou nie.” Kambere Mafika Justin, wat geskors is kort voordat hy in 2010 sou klaargemaak het met skool, het gesê dat sy lewe “heeltemal omgekeer is”. Hoewel die leerders ongelukkig was omdat hulle ’n opvoeding en ’n diploma ontneem is, het hulle geweier om hulle godsdiensoortuigings prys te gee.

Kongolese amptenare handhaaf godsdiensvryheid

In ’n poging om die probleem op te los, het ouers van die geskorste kinders met skooladministrateurs gepraat—maar tevergeefs. Gevolglik het die Getuies die saak onder die aandag van staatsowerhede gebring en billike amptenare gevind wat hulle ingespan het om die godsdiensdiskriminasie te beëindig.

In 2011 het me. Bazizane Maheshe, die Minister van Onderwys van die Noord-Kivu-provinsie, ’n provinsiale omsendbrief uitgegee met die titel: “Diskriminasie op grond van godsdiens word verbied.” Dit het die situasie as “betreurenswaardig” beskryf. Die omsendbrief het die aandag op die probleem gevestig deur te sê: “Leerders van sekere godsdienste is slagoffers van diskriminasie weens interne skoolreëls wat in stryd is met regulasies van die Demokratiese Republiek van die Kongo.”

Die probleem het op 4 September 2013 landwyd aandag ontvang, toe Mwangu Famba, die Minister van Onderwys vir die Demokratiese Republiek van die Kongo, ’n verordening uitgevaardig het wat op alle skole in alle distrikte van toepassing is. Die “Omsendbrief in verband met die verbod op diskriminasie op grond van godsdiens” het reguit gesê: “Alle kinders het die reg om na enige skool toe te gaan sonder dat ’n negatiewe onderskeid op grond van godsdiens getref word.” Die verordening het ook gesê dat skorsing van leerders op grond van godsdiens “lynreg in stryd [is] met die standaarde en wette van die Demokratiese Republiek van die Kongo”.

Baie skole het ag geslaan op die amptelike riglyne en het Getuieleerders terugverwelkom. ’n Paar skole het egter weerstand gebied. Op 12 Junie 2014 het die Onderwysdepartement dus ’n memorandum uitgegee wat die verordening van September 2013 bevestig het en die nuwe raamwerkwet in verband met opvoeding * aangehaal het wat deur die president van die DRK uitgevaardig is. Hierdie herinnering het die onderliggende oorsaak van die probleem aangespreek deur te beklemtoon hoe belangrik dit is om teen diskriminasie te stry en te bevestig dat nasionale en internasionale wette baie groter gesag het as interne skoolreëls. Die Minister van Onderwys het ook amptenare aangestel om skole regoor die land te besoek om te verseker dat hulle op die verordening ag slaan. Hierdie stappe van die staat sal ongetwyfeld blywende, positiewe resultate oplewer.

Voordele vir baie

As Kongolese skole in ooreenstemming met die wet optree, kan alle leerders verwag om ’n opvoeding te ontvang wat vry is van godsdiensonverdraagsaamheid. Skoolkinders sal leer om respek te betoon aan alle mense, ongeag hulle geloof. Sodoende sal Kongolese skole nie net die grondwet van die DRK en die verordening van die Minister van Onderwys onderhou nie, maar ook ’n voorbeeld van regverdigheid vir die land se jongmense stel.

^ par. 12 Nr. 014/004/2014 “Die nuwe raamwerkwet in verband met Opvoeding . . . gee ouers die vryheid om hulle kinders na ’n skool van hulle keuse te stuur. . . . Vir die Nasionale Onderwys is dit ’n noodsaaklike [prioriteit] om teen diskriminasie en ongelykheid te stry.”