24 JANUARIE 2024
DUITSLAND
Duitsland gee Simone Arnold-Liebster die hoogste toekenning in die land vir haar werk om jongmense te leer
Op 15 Desember 2023 het suster Simone Arnold-Liebster ’n merietetoekenning van die Bondsrepubliek Duitsland ontvang. Hierdie merietetoekenning is die hoogste toekenning wat aan dié gegee word vir hulle uitsonderlike diens aan die gemeenskap. Dit is deur konsul-generaal Thomas Pröpstl aan Simone by ’n seremonie in Chambéry, Frankryk, gegee. Simone is nou 93 jaar oud. Sy is geprys vir haar pogings om mense te herinner aan die wrede dinge wat die Nazi-regering gedoen het en aan dié wat geweier het om die haat en geweld wat die Nazi’s bevorder het, te ondersteun.
Tot nou toe het Simone met gehore in 25 lande gepraat. Amper 65 000 mense het haar samekomste bygewoon, insluitende studente en skoolonderwysers. Al is sy oud, hou sy aan om deur middel van videokonferensies met mense te praat, waar sy vrae van jongmense beantwoord en vir hulle vertel van die lesse wat sy geleer het toe sy hulle ouderdom was. ’n Student het ná so ’n videokonferensie geskryf: “Nadat ek na Simone se verhaal geluister het, het ek geleer hoe sterk ons kan wees as ons oortuig is van wat ons glo.”
Toe konsul-generaal Thomas Pröpstl vir Simone hierdie toekenning gegee het, het hy gesê: “Dit is ongelooflik hoe jy versterk is omdat jy jou verhaal van swaarkry aan ander vertel het. Jy het altyd jou verhaal met eerlikheid en liefde vertel en met die hoop dat daar vrede in die toekoms sal wees. As gevolg hiervan het ek groot respek vir jou.”
Onder die Nazi-regering het Simone en haar gesin, soos duisende ander Getuies van Jehovah, wrede vervolging verduur. Toe Simone 12 jaar oud was, is sy van haar huis weggeneem en gedwing om in Konstanz, Duitsland, in die Von Wessenberg-verbeteringskool te bly. Hier het die Nazi’s probeer om haar te dwing om hulle idees te aanvaar en te ondersteun. Omdat die jong Simone geweier het om hulle idees te ondersteun, is sy verneder, nie genoeg kos gegee nie, gedwing om harde werk te doen en amper twee jaar lank verbied om te praat. Simone het oor hierdie tyd gesê: “Jehovah het my ondersteun. Ek het my integriteit behou.”
Ons waardeer regtig Simone se getroue rekord van integriteit terwyl sy aanhou om ons Vader, Jehovah God, te verheerlik. – Matteus 5:16.