Spring na inhoud

Suster Annemarie Kusserow wat in die dokumentêre video Purple Triangles van 1991 verskyn het. Sy kyk na ’n deel van die argief wat uit meer as 1 000 stukke bestaan. Sy het dit saamgestel om die vervolging wat haar familie onder die Nazi-regering deurgemaak het, te beskryf

27 DESEMBER 2022
DUITSLAND

Jehovah se Getuies maak ’n nuwe saak in Duitsland oor Annemarie Kusserow se argief

Nuwe bewyse toon dat Annemarie se argief aan Jehovah se Getuies behoort

Jehovah se Getuies maak ’n nuwe saak in Duitsland oor Annemarie Kusserow se argief

Soos voorheen berig is op jw.org en in The New York Times, het die Bundeswehr se Museum van Militêre Geskiedenis in Dresden, Duitsland, geweier om suster Annemarie Kusserow se argief terug te gee. Dit gaan teen haar laaste wense en testament. Maar nuwe bewyse ondersteun die saak van Jehovah se Getuies. Daarom het ons organisasie ’n nuwe saak teen die museum gemaak.

Jehovah se Getuies probeer al sewe jaar lank om op ’n vreedsame manier tot ’n ooreenkoms met die museum te kom. Maar pogings om die argief terug te kry, was onsuksesvol. Ons organisasie het die saak toe hof toe gevat. Maar ongelukkig is die saak in 2021 verwerp omdat dit die hof se opinie was dat die museum die argief in alle opregtheid gekoop het.

’n Geskiedkundige skat

Toe Annemarie 26 jaar oud was, het sy begin om ’n argief met materiaal oor Jehovah se Getuies gedurende die Nazi-slagting deeglik saam te stel. Sy het dit meer as 65 jaar lank tot haar dood in 2005 bewaar en soms selfs haar lewe in gevaar gestel om dit te doen. Die dinge wat sy vir toekomstige generasies bewaar het, en veral vir haar mede-gelowiges, is internasionaal as ’n geskiedkundige skat waardeer.

Annemarie het die argief saamgestel omdat sy regtig wou hê dat soveel mense moontlik – Jehovah se Getuies sowel as ander – moet aanhou leer uit haar familie se geskiedenis van getrouheid. Om seker te maak dat dit gebeur, het sy gesê dat net Jehovah se Getuies die argief moet erf. Haar wense word tot nou toe nog nie gerespekteer nie.

Annemarie, saam met vier van haar broers en susters, verskyn in die Britse dokumentêre video Purple Triangles van 1991. Die video het gefokus op die Kusserow-familie se ondervindinge om te verduidelik hoe die Nazi-regering Jehovah se Getuies vervolg het omdat hulle geweier het om hulle geloof prys te gee en om aan Hitler lojaal te wees. Annemarie verskyn saam met haar kosbare dokumente en foto’s in die video.

In ’n onderhoud wat met Annemarie gehou is kort voor haar dood, het sy vertel van ’n geval toe die Gestapo haar in haar woonstel gearresteer het en sy amper belangrike dokumente en foto’s van die argief verloor het. Sy het gesê: “Ek het ’n tas gehad wat in die ingang gestaan het. Daar was briewe en allerhande ander dokumente daaronder.” Sy het appels in die groot tas gesit en gehoop dat dit die offisiere sou keer om nie daar te kyk nie. Sy het vir haarself gesê dat as haar plan misluk, sy ‘ten minste iets in die tronk sal hê om te eet’. Gelukkig het haar plan gewerk.

Verkoop sonder toestemming

Kort ná Annemarie se dood het die argief uit haar huis verdwyn. Later het hulle uitgevind dat een van Annemarie se broers, wat nie meer een van Jehovah se Getuies was nie, die argief aan die museum verkoop het. Annemarie het haar broer nooit toestemming gegee om dit te doen nie. Hy is sedertdien oorlede.

Die oorlewende lede van die Kusserow-familie was bewus van Annemarie se wense en was geskok toe die hof beslis het dat die museum die argief kon hou. Sedertdien het familie, vriende en ander Getuies van Jehovah wat deur die Nazi’s vervolg is, honderde briewe aan die museum en die Departement van Verdediging geskryf. Hierdie departement is in beheer van die museum. In die briewe vra hulle dat die argief aan Jehovah se Getuies teruggegee word volgens Annemarie se wense.

Unieke materiaal

Deel van die merkwaardige dokumente in die argief is ’n afskeidsbrief van Annemarie se broer, Wilhelm, wat sy laaste woorde op 26 April 1940 geskryf het. As een van Jehovah se Getuies het hy geweier om militêre diens te doen. As gevolg van sy gewetensbeswaar het die Nazi’s hom die doodsvonnis gegee.

In Wilhelm se brief sê hy: “Liewe ouers, broers en susters: Julle almal weet hoeveel julle vir my beteken, en ek word elke keer daaraan herinner wanneer ek na ons gesinsfoto kyk. Dinge was altyd vreedsaam by die huis. Maar ons moet bo alles vir God lief wees, soos ons Leier Jesus Christus beveel het. As ons lojaal aan God is, sal hy ons beloon.” Hy is op die oggend van 27 April op die ouderdom van 25 doodgeskiet.

Annemarie se ouers, Franz en Hilda Kusserow, het 11 kinders gehad. Soos Wilhelm, is Franz en die ouer seuns tronk toe gestuur omdat hulle geweier het om aan die oorlog deel te neem. Die jonger kinders het geweier om die Hitler-saluut te doen en is van hulle ouers weggeneem en na verbeteringskole en later na pleeggesinne gestuur.

Toe Wolfgang, een van die jonger Kusserow-broers, voor die militêre hof gebring is, het hy moedig gesê: “Ek is as een van Jehovah se Getuies grootgemaak, volgens God se Woord soos uiteengesit in die Heilige Skrif. Die grootste en allerheiligste wet wat hy die mensdom gegee het, is: ‘Jy moet jou God bo alles en almal liefhê en jou naaste soos jouself.’ Ander gebooie sê: ‘Jy mag nie doodmaak nie.’ Het ons Skepper dit alles vir die bome laat neerskryf?”

Op 28 Maart 1942 is die 20-jarige Wolfgang onthoof.

’n Saak van geloof

Annemarie en haar familie het ’n duur prys betaal vir hulle geloof en ferm standpunt teen die Nazi-regering. Party van hulle het gesterf omdat hulle geweier het om oorlog toe te gaan en mense dood te maak. Die familie het altesaam 47 jaar in aanhouding spandeer.

Die argief help ons om die familie se uitsonderlike voorbeeld van geloof duidelik te verstaan. Die dinge in die argief illustreer duidelik hoe geloof in God jou kan help om die krag te hê om lojaal aan hom te bly selfs wanneer ander jou vervolg of jou met die dood dreig. Hierdie hooftema van die argief kan net ten volle waardeer word binne die museums van Jehovah se Getuies.

In Oktober 2022 het Paul Gerhard Kusserow, die laaste oorlewende seun van die familie, gesterf. Hy het gehoop dat hy die dag sou sien wanneer die militêre museum sy suster se testament sou respekteer – iets waarvoor hy tot sy dood toe openlik geveg het. Hy het verduidelik: “My broers het gesterf omdat hulle geweier het om militêre diens te doen. Ek dink nie dit is reg dat hierdie argief in ’n militêre museum van alle plekke gehou word nie.”

Jehovah se Getuies stem saam. Dit is ’n aaklige ongeregtigheid dat die museum Annemarie se duidelike wense ignoreer. Die Kusserow-familie se wense is in die verlede gedurende Nasionale Sosialisme geïgnoreer, en dit word nou weer in moderne Duitsland geïgnoreer.

Ongelukkig word die argief self ook nie met respek behandel nie. Daar is meer as 1 000 stukke in die argief, maar net 6 word uitgestal. Die res word deur die museum geberg, waar mense dit nie kan sien of daaruit kan leer nie.

Ons bid dat die hof uiteindelik die argief vir Jehovah se Getuies sal gee, wat die wetlike sowel as die morele reg daarop het. – Lukas 18:7.