19 SEPTEMBER 2023
DUITSLAND
Vyftien jong Getuies ontvang erkenning vir hulle projek oor Nazi-slagoffer Wilhelmine Pötter
Op 6 Julie 2023 het ’n groep van 15 jong Getuies van Jehovah van die stad Kassel, Duitsland, die eerste prys vir hulle projek gewen. Dit het die moedige voorbeeld van suster Wilhelmine Pötter uitgebeeld, wat as gevolg van Nazi-vervolging gesterf het.
Regdeur die stad Kassel het die stigting Stolpersteine in Kassel klein monumente in die vorm van trapklippe gelê ter herinnering aan diegene wat hulle lewe onder die Nazi-regering verloor het. Onder diegene wat onthou word, is Wilhelmine en haar man, Justus Pötter. In die naburige dorpie Niestetal is daar ’n straat wat na Wilhelmine vernoem is. As deel van die stigting se tiende herdenking was studente regoor die stad gevra om een of meer slagoffers van Nazi-vervolging te kies, ’n verslag oor hulle lewe te gee en lesse wat hulle geleer het, te bespreek.
Die groep broers en susters, wat tussen 13 en 23 jaar oud is, het Wilhelmine vir hulle projek gekies. Hulle het ’n 24 minuut lange video oor haar lewe met die titel Net aan God gehoorsaam gemaak. Die video het verduidelik hoe sy in 1937 deur die Nazi’s in die tronk gesit is en in 1942 op die ouderdom van 49 in die Ravensbrück-konsentrasiekamp gesterf het. Die studente het ook klein plakkate gemaak van foto’s van die briewe wat Wilhelmine vir haar man en haar familie geskryf het terwyl sy in die tronk was. Hierdie plakkate was by die bushalte in die straat wat na Wilhelmine vernoem is, vertoon.
Op 25 April 1937 het Wilhelmine in ’n brief aan haar man geskryf: “Liewe Justus, Ek is bly om te weet dat ons albei kalm gebly het en sterk geloof in God gehad het toe ons gevonnis was. Nou laat ons alles in die Here se hande sodat hy kan aanhou om ons leiding te gee. Ek vra die Here in gebed om ons veral geestelik en fisies te versterk sodat ons ons belofte aan hom kan hou om tot die einde toe getrou te bly. Hy sal nooit toelaat dat ons iets deurmaak wat ons nie kan hanteer nie. So ons sal met volle vertroue na ons Here en Meester kyk.” Haar gebed is beantwoord omdat hulle albei tot die dood toe getrou gebly het.
Suster Alexandra Altemeier, wat 23 is, het die volgende in die video gesê: “Wilhelmine en haar man het geweet dat om ’n volgeling van Christus te wees, sou beteken dat hulle vervolg sou word. Hulle was bereid om gearresteer en vervolg te word en selfs om dood te gaan vir wat hulle geglo het omdat hulle geweet het dat God hulle nie sou vergeet nie.” Broer Ole Schröder, wat 18 is, het ook met die projek gehelp. Hy het gesê: “Suster Pötter se voorbeeld moedig my baie aan. Haar geloof en lojaliteit aan God, haar volharding en die feit dat sy nie haar vreugde verloor het nie, is iets om na te volg. Haar voorbeeld het vir my gewys hoe kosbaar ’n vriendskap met God is.”
By die toekenningseremonie was die video aan ’n gehoor van 180 mense gewys, insluitende ander studente, lede van die pers, die dorp se burgemeester, die hoof van die Departement van Kultuur en die direkteur van die skooldistrik.
Ons is saam met ons broers en susters wat aan hierdie projek deelgeneem het, aangemoedig en gemotiveer deur Justus en Wilhelmine se voorbeeld van geloof en moed. Ons is oortuig dat Jehovah nooit sy getroue knegte sal vergeet nie. – Hebreërs 6:10.