Spring na inhoud

9 OKTOBER 2013
DUITSLAND

Gedenkteken in Duitsland onthul ter herinnering aan Getuie-oorlewende van die Nazi-slagting

Gedenkteken in Duitsland onthul ter herinnering aan Getuie-oorlewende van die Nazi-slagting

SELTERS, Duitsland—’n Gedenkteken ter herinnering aan die oorlede Max Liebster, een van Jehovah se Getuies wat meer as vyf jaar in Nazi-konsentrasiekampe was, is op 21 Junie 2013 in Lautertal-Reichenbach onthul. Die burgemeester en ander stadsamptenare het die gedenkteken onthul in ’n plegtigheid wat bygewoon is deur plaaslike inwoners sowel as mnr. Liebster se weduwee, Simone Liebster, wat ook een van Jehovah se Getuies is.

Mnr. Liebster het gedurende Hitler se Nazi-regime in Duitsland gewoon en is in 1939 deur die Gestapo in hegtenis geneem omdat hy ’n Jood was, waarna hy in vyf konsentrasiekampe gely het: Sachsenhausen, Neuengamme, Auschwitz, Buna en Buchenwald. Agt van sy familielede het in die kampe omgekom. Een van hulle was sy vader, wie se liggaam hy self na die Sachsenhausen-krematorium gedra het.

Mnr. Liebster het in die konsentrasiekampe medegevangenes leer ken wat Jehovah se Getuies was. Hy is as een van Jehovah se Getuies gedoop nadat hy in 1945 vrygelaat is. Volgens een van die bronsgedenkplate wat op sy gedenkteken aangebring is, het mnr. Liebster se geloof hom “die krag en wil gegee om aan die lewe te bly”. Hy is in 2008 op 93-jarige ouderdom dood.

Die uitnodiging na die onthullingsplegtigheid sê dat mnr. Liebster “vas geglo het dat Christelike waardes die beste in mense na vore kan bring”. Wolfram Slupina, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Duitsland, sê: “Ons is bly dat die dapperheid van een van ons baie mede-aanbidders wat ’n gewetensgetroue standpunt te midde van godsdiensonverdraagsaamheid ingeneem het, herdenk word. Hierdie gedenkteken is waarlik ’n bewys van die krag van die Bybel se boodskap van vrede en eenheid, waaraan Jehovah se Getuies lojaal probeer bly.”

Mediaverteenwoordiger(s):

Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Duitsland: Wolfram Slupina, tel. +49 6483 41 3110

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000