Spring na inhoud

Die Falcone-gesin woon ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies by

3 MAART 2017
DUITSLAND

Duitsland erken streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies wetlik as godsdienstige vakansiedae

Duitsland erken streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies wetlik as godsdienstige vakansiedae

In April 2012 het die sewejarige Vivienne Falcone vir die skoolhoof ’n briefie gebring. In die briefie het haar ouers toestemming gevra om haar vir een dag uit die skool te hou. Haar gesin wou die jaarlikse driedaagse godsdiensbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Mainz bywoon. Die skoolowerheid het geweier dat Vivienne die Vrydag uit die skool bly om die eerste dag van die streekbyeenkoms by te woon. Ten spyte hiervan het Vivienne se ouers besluit dat haar geestelike opvoeding belangrik is, en daarom het hulle haar na die byeenkoms geneem. Omdat die skoolowerheid geweier het om toestemming te gee, het Vivienne se ouers ’n versoek ingedien by die Onderwysraad. Maar in plaas daarvan om streekbyeenkomste as godsdienstige vakansiedae te erken, het die Onderwysraad hulle beveel om ’n administratiewe fooi te betaal.

Dit kon ernstige gevolge vir Vivienne se ouers inhou. In Duitsland word ouers wetlik verplig om hulle kinders skool toe te stuur, en as die kinders sonder toestemming uit die skool gehaal word, kan die ouers ’n boete kry of in uiterste gevalle selfs tronk toe gestuur word. Vivienne se ouers het hierdie saak egter beskou as ’n skending van hulle godsdiensvryheid en hulle reg om hulle kind volgens hulle godsdiensoortuigings groot te maak.

Hofsaak oor reg op godsdienstige vakansiedae

Vivienne se ouers, Stefano en Elisa, het ’n klag by ’n administratiewe hof ingedien teen die optrede van die Onderwysraad. Hulle het verduidelik dat hierdie godsdiensbyeenkoms die gesin ’n geleentheid bied om God saam te aanbid en hulle geloof op te bou. Hulle het verder gesê: “Die streekbyeenkoms is die hoogtepunt van die jaar en ’n spesiale deel van ons aanbidding.” * Die hof het ten gunste van die ouers beslis en erken dat die jaarlikse streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies godsdienstige vakansiedae is. Die Onderwysraad het hierdie besluit geappelleer, want volgens hulle is die byeenkomste van Jehovah se Getuies nie godsdienstige vakansiedae nie. Hulle sê dat dit eerder dae is waarop daar feesgevier word en nie spesiale heilige dae is soos Kersfees, Paasfees of nasionale vakansiedae nie.

Op 27 Julie 2015 het die Hoër Administratiewe Hof van Hesse die laer hof se beslissing bevestig. Die hoër hof het verklaar dat die definisie van ’n godsdienstige vakansiedag afhang van hoe die spesifieke godsdiensorganisasie dit beskou. Volgens die hof is daar ’n duidelike verskil tussen sake wat met godsdiens te doen het en sake wat met die staat te doen het. Die hof het gesê: “In Duitsland het kerke en godsdiensorganisasies, asook ander organisasies wat hulle eie lewensbeskouing bevorder, die grondwetlike reg om hulleself te bestuur en hulle eie besluite te neem. Die staat mag nie hierdie reg skend nie.” Die staat is “verplig om neutraal te bly ten opsigte van lewensbeskouing en godsdiens”.

Die hoër hof het ook verwys na die amptelike webwerf van Jehovah se Getuies, wat verduidelik dat die Getuies hulle streekbyeenkomste as godsdienstige vakansiedae beskou. Die hof het gesê dat die Onderwysraad “die kind se reg op godsdiensvryheid, asook die ouers se reg om hulle kind groot te maak volgens hulle godsdiensoortuigings of hulle lewensbeskouing, geskend het”. Die hof het besluit dat die Onderwysraad se “opinie in stryd is met die neutraliteit wat van die staat vereis word”.

“Deelname aan ’n eenvoudige godsdiensseremonie kan ’n geldige rede wees om van klasse vrygestel te word.”—Hoër Administratiewe Hof van Hesse

’n Gebalanseerde opvoeding

Nadat Vivienne se ouers hierdie gunstige beslissing ontvang het, het hulle gesê: “As Jehovah se Getuies beskou ons die opvoeding wat ons kinders by die skool ontvang, as belangrik en help ons hulle om dit te geniet om nuwe dinge te leer. Maar godsdiensopvoeding is ook vir ons baie belangrik omdat dit ons kinders leer om ’n liefde vir geestelike dinge te ontwikkel en ’n persoonlike verhouding met God op te bou. Dit help hulle om liefdevol, bedagsaam en gebalanseerd te wees. Ons is dankbaar vir die wetlike owerheid se beslissing.”

Armin Pikl, ’n regsverteenwoordiger vir die Falcone-gesin, het gesê: “Hierdie beslissing erken dat streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies heilige geleenthede is. Dit bevestig ook ouers se reg om hulle kinders volgens hulle godsdiensoortuigings op te voed. Leerders wat Jehovah se Getuies is, het nou toestemming om regdeur hulle skoolloopbaan een dag per jaar afwesig te wees sodat hulle hierdie opbouende byeenkomste kan bywoon. Ek hoop dat regsowerhede in ander lande hierdie gunstige beslissing in gedagte sal hou wanneer hulle soortgelyke sake verhoor.”

^ par. 5 Streekbyeenkomste word jaarliks regoor die wêreld deur Jehovah se Getuies gehou. By hierdie driedaagse program van godsdiensonderrigting word jonk en oud geleer hoe om Bybelbeginsels daagliks in hulle lewe toe te pas.