Spring na inhoud

16 JULIE 2015
DUITSLAND

Amptenare eer pa en seun omdat hulle gehelp het om drie mans uit ’n brandende motor te red

Amptenare eer pa en seun omdat hulle gehelp het om drie mans uit ’n brandende motor te red

Jorim, Christiane en Andreas Bonk. Andreas was tydens die seremonie weens ’n onverwante voorval in die hospitaal.

SELTERS, Duitsland—Andreas Bonk, een van Jehovah se Getuies, en sy seun Jorim het op 16 April 2015 saam met ander mense toekennings ontvang omdat hulle gehelp het om drie slagoffers van ’n ongeluk uit ’n brandende motor te red. Die toekennings is oorhandig in ’n seremonie wat bygewoon is deur die Minister van Binnelandse Sake van die Federale Staat van Baden-Württemberg, in Suidwes-Duitsland, en deur twee burgemeesters, van Obersulm en Waiblingen, die tuisdorpe van diegene wat toekennings ontvang het. Minister van Binnelandse Sake Reinhold Gall (boonste foto, derde van regs) het aan Andreas Bonk die Lewensreddingsmedalje van die Federale Staat van Baden-Württemberg (Lebensrettungsmedaille des Landes Baden-Württemberg) toegeken. Mnr. Bonk se vrou, Christiane (boonste foto, middel), het namens hom die medalje aanvaar, aangesien hy tydens die seremonie weens ’n onverwante voorval in die hospitaal was. Gedurende dieselfde seremonie het die burgemeester van Obersulm, Tilman Schmidt (boonste foto, heel links), aan Jorim Bonk (boonste foto, middel) ’n Eresertifikaat (Ehrungsurkunde) toegeken.

Op 11 Mei 2014 het Andreas en Jorim Bonk op die hoofweg gereis na ’n groot vergadering vir Bybelonderrig wat deur Jehovah se Getuies aangebied is en waar Andreas ’n Bybeltoespraak sou lewer. Op pad het hulle op ’n tragiese motorongeluk afgekom. Vier Amerikaanse soldate was vasgekeer in ’n brandende motor wat op sy sy gelê het. Die Bonks, sowel as twee ander mense, het stilgehou om te help. Andreas het sy lewe gewaag om die passasiers uit die brandende motor te help totdat die polisie, brandweer en ambulans opgedaag het. Ongelukkig het een van die soldate gesterf. Toe die tydskrif Sulmtaler Woche oor die voorval berig gelewer het, het dit aangehaal wat minister Gall vir die redders gesê het: “Julle het moedig, vreesloos en onselfsugtig opgetree.” Burgemeester Schmidt het bygevoeg: “Ons, die mense van Obersulm, is trots op julle.”

Foto by die ongelukstoneel.

Andreas Bonk het verduidelik wat hom beweeg het om so moedig op te tree: “Ek het by die ongelukstoneel stilgehou weens besorgdheid oor my medemens. Ek beskou elke lewe as kosbaar. . . . As ek of enige van my familielede ooit in so ’n situasie beland, hoop ek dat ander goedhartig en dapper genoeg sal wees om in te gryp en te help.” Jorim het bygevoeg: “Dis belangrik dat ons nie mense ignoreer wat hulp nodig het nie.”

Die toekenningseremonie het in die Obersulm-stadsaal plaasgevind. Die Duitse nuustydskrif STIMME.de het berig gelewer oor die seremonie en het die opperburgemeester van Waiblingen, Andreas Hesky (boonste foto, tweede van regs) aangehaal: “Julle kan trots wees op wat julle gedoen het. Die dorp Waiblingen is trots om sulke burgers te hê. Julle is rolmodelle is ons gemeenskap.”

Mediakontak(te):

Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Duitsland: Wolfram Slupina, tel. +49 6483 41 3110

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000