Spring na inhoud

7 APRIL 2014
DUITSLAND

Richard Rudolph, wat konsentrasiekampe oorleef het, sterf op 102 in Duitsland

Richard Rudolph, wat konsentrasiekampe oorleef het, sterf op 102 in Duitsland

SELTERS, Duitsland—Richard Rudolph, een van Jehovah se Getuies, wat vyf Nazi-konsentrasiekampe oorleef het en onder die Kommunistiese bewind tronkstraf moes uitdien, is op 31 Januarie 2014 oorlede. Hy was 102 jaar oud.

Nadat die Nazi’s in 1933 aan bewind gekom het, is die werk van Jehovah se Getuies in ’n groot deel van Duitsland onwettig verklaar. Gevolglik is altesaam 11 300 Getuies deur die Nazi’s in die tronk gegooi, waarvan 4 200 na konsentrasiekampe gestuur is, onder andere mnr. Rudolph. Ongeveer 1 500 het hulle lewe verloor. Onder die Nazi-bewind het mnr. Rudolph nege jaar se tronkstraf uitgedien en vyf konsentrasiekampe oorleef, insluitende die berugte Sachsenhausen- en Neuengamme-konsentrasiekamp, waar meer as 300 000 mense aangehou is en soveel as 140 000 gesterf het.

Richard Rudolph (op die dak, heel regs) was een van die gevangenes wat in 1940 gedwing is om die Neuengamme-konsentrasiekamp te bou.

In 1944 is mnr. Rudolph na ’n satellietkamp van die Neuengamme-konsentrasiekamp met die naam Salzgitter-Watenstedt oorgeplaas. Weens sy godsdiensoortuigings het hy geweier om enige werk te doen wat met die produksie van ammunisie verband hou, en daarom is hy met teregstelling gedreig. ’n Vriendelike SS-offisier, wat beïndruk was met Rudolph se godsdiensoortuigings, het hom egter weggesteek in ’n trok wat gebruik is om kos aan te ry, en hy kon dus teregstelling vryspring.

Ná die Tweede Wêreldoorlog het Rudolph sy godsdiensbedrywighede as een van Jehovah se Getuies in die Sowjet-besettingsgebied voortgesit, wat later die Duitse Demokratiese Republiek (DDR) geword het. Hy is weer in 1950 in hegtenis geneem en tronkstraf opgelê. Hy was altesaam meer as 19 jaar lank weens sy godsdiensoortuigings in die tronk.

Ann-Jacqueline Frieser en Richard Rudolph, wie se biografie die onderwerp was van ’n artikel waarvoor sy in 2009 ’n prys gewen het.

Richard Rudolph het hom dekades lank daarop toegelê om die Bybel se boodskap aan ander te verkondig en hulle te vertel van die lesse wat hy uit die verlede geleer het oor die slegte gevolge van diskriminasie. In 2009 het ’n Duitse student, Ann-Jacqueline Frieser, twee pryse gewen in die Federale President se Geskiedeniskompetisie met die titel “Helde: Vereer—Misverstaan—Vergete” vir haar biografie oor Richard Rudolph en haar onderhoud met hom. Sy het die eerste plek gekry in die staat Rheinland-Palatinate en was een van die drie topstudente wat die Federale prys gewen het.

Wolfram Slupina, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Duitsland, sê: “Richard Rudolph was nie net ’n dierbare vriend en medegelowige nie, maar ook ’n waardevolle geskiedkundige bron. Sy lewe, wat deur merkwaardige geloof en moed gekenmerk was, is vir ons almal ’n voorbeeld.”

Mediaverteenwoordiger(s):

Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Duitsland: Wolfram Slupina, tel. +49 6483 41 3110

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000