Spring na inhoud

Die Sentrum vir Dokumentasie vir die Geskiedenis van Nasionale Sosialisme in München (aan die regterkant) het onlangs ’n spesiale uitstalling gehou oor Jehovah se Getuies gedurende die Nazi-tydperk. Dit is op dieselfde eiendom as wat die eertydse hoofkwartier van die Nazi-party was.

18 FEBRUARIE 2019
DUITSLAND

Uitstalling in München wys hoe Nazi’s Jehovah se Getuies vervolg het

Uitstalling in München wys hoe Nazi’s Jehovah se Getuies vervolg het

Die uitstalling by die Sentrum vir Dokumentasie vir die Geskiedenis van Nasionale Sosialisme in München het 60 panele uitgestal. Dokumente en foto’s daarop vertel die verhaal van hoe die Nazi’s Jehovah se Getuies vervolg het.

Vanaf 26 September 2018 tot 6 Januarie 2019 het die Sentrum vir Dokumentasie vir die Geskiedenis van Nasionale Sosialisme in München ’n spesiale uitstalling gehou. Die doel was om die publiek bewus te maak van wat met Jehovah se Getuies in die Nazi-tydperk gebeur het. Die Sentrum is op dieselfde eiendom as wat die eertydse hoofkwartier van die Nazi-party was.

Gedurende die openingseremonie het dr. Hans-Georg Küppers, München se kultuurraadgewer, die rede vir die uitstalling verduidelik. Hy het gesê: “Hierdie uitstalling is belangrik omdat mense vir ’n lang tyd gedink het dat Jehovah se Getuies nie deur die Nazi’s vervolg is nie. . . . Die doel van hierdie uitstalling is om die publiek bewus te maak van die waarheid oor hierdie [slagoffers].”

Die geskiedkundige verslag van wat ons broers onder die Nazi’s in München deurgemaak het, is op 60 panele uitgebeeld. Dit is gevul met stories van moed, lojaliteit en oorlewing. Een paneel het die ondervinding vertel van Martin en Gertrud Pötzinger, wat gearresteer en na aparte konsentrasiekampe gestuur is net ’n paar maande nadat hulle getroud is. Hulle het mekaar nege jaar lank nie gesien nie. Hulle albei het dit oorleef, en broer Pötzinger het later as ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies gedien.

Therese Kühner is op 6 Oktober 1944 deur die Nazi’s doodgemaak.

’n Ander paneel het die verhaal van Therese Kühner vertel, wat in 1929 een van Jehovah se Getuies (toe bekend as die Internasionale Bybelstudente) geword het. Toe Duitsland die Getuies verban het, het die broers geheime godsdiensvergaderinge in haar huis gehou. Sy het begin om in die geheim Getuie-lektuur te druk met ’n mimeograaf wat met ’n handslinger werk. Nadat die Nazi’s dit agtergekom het, het hulle haar gearresteer en haar daarvan aangekla dat sy “lektuur druk en versprei wat teen die regering is en die soldate ontmoedig”. Suster Kühner het lojaal gebly al het sy voor die dood te staan gekom. Sy is op 6 Oktober 1944 doodgemaak.

In die uitstalling is daar ook gewys hoe ons broers polities neutraal gebly het omdat hulle geweier het om Hitler te salueer. As gevolg hiervan was hulle veral vervolg in hierdie tydperk waar daar sulke uiterste haat was.

In 1934 het Hitler gesweer om Jehovah se Getuies uit te roei deur te sê: “Hierdie gebroedsel sal uitgewis word in Duitsland!” Die Getuies is wreed vervolg deur Hitler toe hy sy wrede plan probeer uitvoer het. Hitler en sy party bestaan nie meer nie, maar daar is nou al meer as 165 000 Getuies in Duitsland. Ons is dankbaar teenoor Jehovah omdat hy ons tydens beproewinge hoop gee wat ‘nie tot teleurstelling lei nie’. – Romeine 5:3-5.