23 APRIL 2020
ECUADOR
Getuies in Ecuador preek suksesvol van die huis af
Ons broers en susters regoor die wêreld hou aan om maniere te vind om gedurende die koronavirus-pandemie te preek. Verkondigers in Ecuador kan mense bereik met die goeie nuus deur op verskeie maniere te preek.
In die stad Ambato het ’n sewe-jarige verkondiger, saam met haar ma, teksboodskappe aan haar skoolonderwysers gestuur. Party van hierdie boodskappe het gesê: “Goeie môre, juffrou. Ek stuur hierdie vertroostende boodskap as gevolg van die moeilike tye waarin ons lewe. Die Bybel belowe vir ons ’n beter toekoms in Openbaring 21:4. Ek stuur vir juffrou ’n skakel met meer inligting.”
Een juffrou het teruggeskryf: “Baie dankie, liefie. Selfs al is jy so jonk, is jou woorde baie wys.” Nog ’n onderwyser het vir haar dankie gesê en gevra of daar ’n elektroniese weergawe van die boek My boek met Bybelverhale is. Die juffrou het verduidelik dat sy ’n kopie daarvan gehad het, maar dit vir ’n ander student geleen het. Die jong verkondiger het vir haar juffrou verduidelik dat sy die boek op jw.org kan aflaai.
’n Getroude paartjie in die stad Quevedo het deur hulle kontaklys gegaan om mense te soek wat nie Getuies is nie en het vir hulle die volgende boodskap gestuur: “Ek is een van Jehovah se Getuies. As gevolg van die krisis wat die land en die hele wêreld raak, kan ons nie van huis tot huis preek nie, maar ons sal graag met jou wil praat deur middel van ’n video-oproep.”
Baie mense het ingestem om met hulle te praat. Een persoon, ’n vrou wat nie in die verlede na die Getuies wou luister nie, het vir die paartjie dankie gesê omdat hulle probeer om mense te vertroos. Die vrou het verduidelik dat sy bekommerd is oor die huidige situasie. Die paartjie het vir die vrou die Ontwaak!, nr. 1 2020 gestuur met die titel “Kry verligting van stres” in PDF-formaat. In ’n ander gesprek, het die vrou vir hulle dankie gesê vir die tydskrif. Sy het ook vir hulle gesê dat sy dit al oor en oor gelees het.
’n Dowe suster met die naam Johana, van die provinsie Santo Domingo de los Tsáchilas, het ’n brief “geskryf” deur prentjies te gebruik. a Sy het ’n foto daarvan geneem en dit na al haar kontakte gestuur wat doof is. Maar een van die persone vir wie sy dit gestuur het, is ’n horende vrou. Die vrou het dadelik teruggeskryf en vrae gevra. Aangesien Johana nie die vrae verstaan het nie, het ’n horende pioniersuster met die naam Rhonda die vrae beantwoord.
Die vrou wat belanggestel het, het vir Rhonda verduidelik dat die prentjies wat Johana vir haar gestuur het, haar aandag getrek het. Sy het gevra of daar ander verse in die Bybel is wat ook praat oor wat nou op die aarde gebeur. Rhonda het Lukas 21:10, 11 vir haar gelees en skakels na die video’s Hoekom laat God toe dat mense swaarkry? en Hoekom het God die aarde geskep? vir haar gestuur. Die vrou is bereid om weer ’n gesprek te hê.
Net soos die apostel Paulus aangehou het om “deeglik oor die Koninkryk van God te getuig” terwyl hy ’n gevangene was, hou ons broers aan om alles te doen wat hulle kan om te preek, selfs al kan hulle nie hulle huise verlaat nie. – Handelinge 28:23.
a Aangesien baie dowe mense sukkel om geskrewe teks te verstaan, gebruik baie verkondigers in die gebaretaal-veld prentjies om gedagtes oor te dra eerder as om woorde uit te skryf.