Spring na inhoud

7 JUNIE 2017
EGIPTE

‘Ek sien daarna uit dat die onregverdige verbod tot ’n einde moet kom’

‘Ek sien daarna uit dat die onregverdige verbod tot ’n einde moet kom’

Ehab Samir is ’n 52-jarige Egiptenaar en is een van Jehovah se Getuies. Mnr. Samir sê dat die meeste Getuies “soos kriminele” behandel word, sedert die regering van Egipte hulle aanbidding beperk het. Daarom was hy baie bly toe hy ’n web-artikel gelees het wat presies verduidelik wat aan die gang is.

Die artikel met die titel “Dr. Riham Atef skryf: Jehovah se Getuies” was op 19 Augustus 2016 in Egipte gepubliseer op ’n aanlyn nuusblad met die naam Sjbab Misr. Dr. Atef, wat ’n assistentprofessor by die Universiteit van Kaïro en ook ’n joernalis is, het daarop gewys dat mense in Egipte oor die algemeen die verkeerde idee oor die Getuies het. Sy ken ’n paar Getuies van Jehovah persoonlik, en nadat sy baie navorsing oor hulle gedoen het, het sy gesê: “Ek is oortuig van hulle menslikheid en weet dat hulle ander se geloofsoortuigings respekteer.”

“Hulle bevorder liefde en vrede”

Dr. Atef het dit duidelik gemaak dat haar artikel geskryf is vir mense “wat niks oor Jehovah se Getuies weet nie en die Getuies haat omdat hulle leuens omtrent die Getuies vertel is”. Haar artikel het ’n opsomming gegee oor ’n paar van die basiese dinge waarin die Getuies glo en het ook gesê dat “daar baie meer besonderhede op hulle webwerf, www.pr418.com, is”.

Nadat sy Jehovah se Getuies onpartydig beoordeel het, het dr. Atef tot die slotsom gekom dat die manier waarop die Getuies oor die algemeen in Egipte beskou word glad nie sin maak nie. Sy het gesê: “Hulle word verban, en ek kan nie verstaan hoekom nie. Hulle is polities neutraal. . . . Hulle bevorder liefde en vrede.” Dr. Atef het met haar lesers geredeneer en gevra: “Is dit redes om hulle te verban? Of word hulle verban omdat hulle Bybelleringe verskil van die kerk se leerstellings?”

‘Ek sien daarna uit dat die verbod tot ’n einde kom’

Mnr. Samir het die artikel oor die Getuies baie geniet. Daarom het hy ’n brief aan die redakteur geskryf om te sê dat hy dit baie waardeer het. Hy het gesê: “Ek het al baie artikels oor Jehovah se Getuies in die media [in Egipte] gelees. Maar baie min van die artikels het iets goeds oor hulle gesê. Daarom wil ek graag vir dr. Riham Atef dankie sê dat sy so dapper en eerlik is.” Die aanlyn nuusblad het mnr. Samir se brief op 11 Desember 2016 gepubliseer.

In sy brief het mnr. Samir gesê hoe teleurgesteld hy is dat die Getuies so onregverdig mishandel word. Hy het verduidelik dat dit gebeur as gevolg van valse stories wat deur kerkleiers versprei word. Mnr. Samir het ook gesê dat lasterlike stories veroorsaak het dat hy persoonlik sleg behandel is. Hy het toe gesê: “Die beste manier om iemand te leer ken, is om persoonlik met hom te praat. Daarom wil ek vir dr. Riham Atef dankie sê vir wat sy geskryf het.”

Mnr. Samir het sy brief afgesluit met die woorde: “Ek sien daarna uit dat die onregverdige verbod op Jehovah se Getuies tot ’n einde kom sodat ons ons aanbidding vryelik in ons land kan beoefen.”

Godsdiensvryheid in die toekoms

Dekades gelede was Jehovah se Getuies as ’n godsdiens in Egipte geregistreer en het hulle godsdiensvryheid geniet. Maar in 1960 is hulle wetlike status weggeneem, en hulle het ook baie van die godsdiensregte en menseregte wat ander Christelike godsdienste in Egipte geniet, verloor.

Sedertdien, het Getuies van Jehovah in Egipte getoon dat hulle verantwoordelike lede van die gemeenskap is en dat hulle, soos dr. Atef gesê het, mense is wat altyd “liefde en vrede bevorder”. Baie ander mense voel soos mnr. Samir en wil graag sien dat basiese regte aan die Getuies toegeken word en dat hulle weer godsdiensvryheid in Egipte sal kry.