Spring na inhoud

Broer Tesfazion Gebremichael is al 11 jaar lank in die tronk in Eritrea

26 OKTOBER 2022
ERITREA

Amerikaanse Kommissie vir Internasionale Godsdiensvryheid vra vir vrylating van 80-jarige Getuie in Eritrea

Amerikaanse Kommissie vir Internasionale Godsdiensvryheid vra vir vrylating van 80-jarige Getuie in Eritrea

Die Amerikaanse Kommissie vir Internasionale Godsdiensvryheid (USCIRF) het gesê dat hulle bekommerd is oor broer Tesfazion Gebremichael, wat al meer as 11 jaar lank in die tronk in Eritrea is. Die USCIRF-webwerf sê dat “Gebremichael se gevorderde ouderdom – nou al in sy 80’s – tot besorgdheid oor sy gesondheid en welsyn in die tronk lei”. Op 7 Oktober 2022 het kommissaris Frederick Davie van USCIRF openlik gevra dat broer Gebremichael vrygelaat moet word.

Die owerhede het broer Gebremichael op 20 Julie 2011 gearresteer, terwyl hy sy geloofsoortuigings saam met ander bespreek het. Hoewel hy in Eritrea gebore is, word hy nie meer as ’n burger beskou nie omdat die regering in 1994 alle Getuies van Jehovah se burgerskap weggeneem het.

Broer Gebremichael het in Januarie 1971 een van Jehovah se Getuies geword. Hy is bekend as ’n liefdevolle en vreedsame gesinsman wat ander in sy gemeenskap help. Hy het in 1974 met sy vrou, Lemlem, getrou. Sy is ook een van Jehovah se Getuies. Hulle het vier kinders en vyf kleinkinders.

Suster Gebremichael sê: “Al is ek bekommerd oor my man se gesondheid terwyl hy in die tronk is en ek sy liefde en ondersteuning mis, weet ek dat Jehovah vir hom sal sorg. Ek bewonder my man se lojaliteit en sy vasbeslotenheid om sy integriteit te behou. Om oor Prediker 10:4 na te dink, spoor my aan om kalm te bly terwyl ons familie deur hierdie uitdagings gaan.”

Eritrea vervolg Jehovah se Getuies al vanaf 1991. Hoewel 32 Getuies vanaf Desember 2020 tot Februarie 2021 voorwaardelik vrygelaat is, is 20 van ons broers en susters nog steeds in die tronk. Almal is vir ’n onbepaalde tyd opgesluit. Omdat hulle nie hulleself voor die hof of op enige ander manier kan verdedig nie, verwag hulle om lewenslank in die tronk te bly.

Belangrike internasionale menseregte-organisasies het Eritrea se skending van basiese regte herhaaldelik veroordeel en hulle beveel om die situasie reg te stel. Die VN se Kommissie van Ondersoek oor Menseregte in Eritrea het selfs in 2016 gesê dat die regering in Eritrea ’n “misdaad teen die mensdom” gepleeg het omdat hulle Jehovah se Getuies en ander vervolg.

Die volgehoue aanhouding van broer Gebremichael is ’n voorbeeld van die regering se beleid van wreedheid teenoor die Getuies, selfs die bejaardes. Vanaf 2011 het vier Getuies gesterf terwyl hulle in die tronk was, en drie bejaarde Getuies het gesterf nadat hulle vrygelaat is as gevolg van die aaklige toestande in die tronk.

Amptenare in Eritrea het versoeke deur Jehovah se Getuies geweier om die saak te bespreek.

Ons bid vir ons broers en susters wat onregverdig in die tronk is. Ons is oortuig dat Jehovah sal aanhou om hulle te ondersteun. – Hebreërs 13:3.