Spring na inhoud

ERITREA

Oorsig van Eritrea

Oorsig van Eritrea

In geen ander land word Jehovah se Getuies so erg vervolg soos in Eritrea nie. Sedert Eritrea hulle onafhanklikheid in 1993 verkry het, word Jehovah se Getuies opgesluit, gefolter en geïntimideer. ’n Presidensiële besluit van 25 Oktober 1994 het verklaar dat die Getuies in Eritrea “hulle Eritrese burgerskap verbeur het” omdat hulle weier om aan die politiek deel te neem of om diensplig te doen. Gevolglik het die regering die Getuies hulle basiese menseregte ontneem.

As gevolg van jarelange vervolging en ontberinge het baie Getuies uit die land gevlug. Diegene wat nog in die land is, loop gedurig die gevaar om mishandel te word en moet baie versigtig wees wanneer hulle aan enige godsdiensbedrywigheid deelneem. Oor die jare heen het die Eritrese owerheid baie Getuies in hegtenis geneem en opgesluit—party weens hulle gewetensbeswaar teen diensplig en ander omdat hulle godsdienstige vergaderinge bygewoon het, met ander oor die Bybel gepraat het of weens redes wat nie bekend gemaak is nie. Bejaarde mans, vroue en partykeer selfs kinders is onder diegene wat opgesluit is. Drie Getuiemans is al meer as 20 jaar lank in die tronk. Nie een van hulle is al amptelik aangekla, verhoor of gevonnis nie.

Die vervolging van Jehovah se Getuies in Eritrea het van regoor die wêreld reaksie uitgelok. Regeringsamptenare in Afrika, Europa en die Verenigde State het die saak by Eritrese amptenare aangeroer, maar tot dusver het die regering nog min verligting verskaf. Die Getuies het verskeie versoeke aan Eritrese amptenare in Asmara gerig om samesprekings te voer om die probleme op te los, maar die regering weier om met hulle te vergader.