Spring na inhoud

30 JANUARIE 2017
ERITREA

Nog ’n Getuie in Eritrea sterf nadat hy uit die tronk vrygelaat is

Nog ’n Getuie in Eritrea sterf nadat hy uit die tronk vrygelaat is

Op 30 November 2016 het Tsehaye Tesfamariam in Asmara gesterf. Hy is op 10 September 2015 uit die tronk vrygelaat omdat hy ernstig siek was en nie behoorlike mediese sorg en behandeling in die tronk gekry het nie. Hy is in 1941 in Nefasit, in Eritrea, gebore en word oorleef deur sy vrou Hagosa Kebreab. Hulle is in 1973 getroud en het vier dogters en drie seuns. Hy is in 1958 as een van Jehovah se Getuies gedoop.

Mnr. Tesfamariam was, vandat hy in Januarie 2009 in hegtenis geneem is, in die Meitir-gevangeniskamp aangehou. Op 5 Oktober 2011 is mnr. Tesfamariam en 24 ander Getuiemans wat ook in die Meitir-gevangeniskamp opgesluit was, verder gestraf. Hulle is in ’n metaalgebou gesit wat gedeeltelik begrawe was, en is toe daar aangehou tot Augustus 2012. Nadat hulle die verskriklike somerhitte sonder genoeg kos en water moes verduur, het ’n hele paar van hulle ernstig siek geword.

As gevolg van die verskriklike dinge wat hulle moes deurmaak, het Misghina Gebretinsae en Yohannes Haile in die Meitir-gevangeniskamp gesterf. Kahssay Mekonnen en Goitom Gebrekristos is dood nadat hulle vrygelaat is. Mnr. Tesfamariam se dood word nou ook by hierdie lys gevoeg.