Spring na inhoud

8 AUGUSTUS 2023
ETIOPIË

Die boek Matteus in Sidama en Wolaita vrygestel

Die boek Matteus in Sidama en Wolaita vrygestel

Op 23 Julie 2023 het broer Lemma Koira, ’n lid van die Takkomitee in Etiopië, digitale weergawes van Die Bybel – Die goeie nuus volgens Matteus in Sidama en Wolaita vrygestel. Die aankondiging is gemaak gedurende ’n spesiale vergadering by die Byeenkomssaal in Addis Abeba, Etiopië. Amper 1 800 mense het die geleentheid in persoon bygewoon en nog 12 669 het deur middel van videokonferensie en ’n satelliet-televisiekanaal na die spesiale program gekyk. Digitale uitgawes van die Bybel was dadelik ná die vrystelling beskikbaar om afgelaai te word. Gedrukte kopieë van die boek Matteus sal in die komende maande aan die gemeentes beskikbaar gemaak word.

Wolaita en Sidama word hoofsaaklik in die suide van Etiopië gepraat. ’n Vertaalspan vir Wolaita is in 2005 gevorm, en ’n vertaalspan vir Sidama in 2007. Albei spanne werk by vertaalkantore wat in gebiede is waar daar ’n groot bevolking mense is wat Wolaita of Sidama praat.

Broers en susters wat Sidama praat, is baie bly om die boek Matteus te kry

Hoewel volledige vertalings van die Bybel in albei tale beskikbaar is, is dit nie maklik om te kry nie en is dit baie duur. Een vertaler het die ondervinding van baie broers en susters wat Sidama praat, so beskryf: “Die meeste gemeentes het net een kopie van die Bybel. Gedurende vergaderinge kan net die spreker daardie Bybel gebruik. So om ons persoonlike Bybellees te doen, moet ons na die Koninkryksaal toe gaan om die enigste Bybel wat beskikbaar is, te gebruik. Noudat ons uiteindelik die boek Matteus in Sidama het, kan ons God se Woord in ons eie huise lees en studeer.”

Broers en susters klap hande met die vrystelling van die boek Matteus in Wolaita

’n Vertaler op die Wolaita-vertaalspan het sy waardering uitgespreek vir die duidelike taal wat in die Nuwe Wêreld-vertaling gebruik is. Hy het gesê: “Een Bybelvertaling beskryf die heilige gees as ’n persoon in Matteus 28:19. In die bediening het dit dit baie moeilik gemaak om die verskil tussen die Vader, die Seun en die heilige gees te verduidelik. Maar die Nuwe Wêreld-vertaling het die heilige gees akkuraat as ’n krag beskryf. Ek is vol vertroue dat die vertaling van die boek Matteus in Wolaita ’n verskil sal maak in die predikingswerk.”

Die vrystelling van Die Bybel – Die goeie nuus volgens Matteus in Sidama en Wolaita is ’n kragtige bewys dat die goeie nuus beskikbaar gemaak word aan ‘elke nasie, stam en taal’. – Openbaring 14:6.