Spring na inhoud

14 NOVEMBER 2013
FILIPPYNE

Die supertifoon Haiyan saai verwoesting in die Sentraal-Filippyne

Die supertifoon Haiyan saai verwoesting in die Sentraal-Filippyne

MANILA, Filippyne—Op 8 November 2013 het die supertifoon Haiyan (in die Filippyne bekend as Yolanda), een van die ergste storms wat nog ’n landmassa bereik het, die Filippyne getref.

Teen 13 November 2013 het die Filippynse takkantoor van Jehovah se Getuies in Manila berig dat 27 Getuies gesterf het. Meer as 100 huise van die Getuies en vyf plekke van aanbidding is vernietig.

Die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies koördineer die internasionale ramphulp vanuit hulle wêreldhoofkwartier in Brooklyn, New York. As deel van hierdie reëlings doen die Filippynse takkantoor hulle bes om kos, water, medisyne en ander voorrade na die geteisterde gebiede te stuur. Teen Sondag 10 November is al sowat tien trokvragte noodlenigingsvoorraad afgelewer, en nog vragmotors is gedurende die daaropvolgende dae soontoe gestuur.

Die gebied het min tyd gehad om te herstel van die aardbewing van 7,2 op die Richterskaal wat die Filippyne op 15 Oktober 2013 geskud het, waarin 218 mense hulle lewe verloor het. Volgens berigte het die groot aardbewing die lewens van drie van Jehovah se Getuies geëis—een weens ’n grondstorting en twee toe hulle huise inmekaargestort het. Die aardbewing het kort op die hakke gevolg van die tifoon Nari, wat die Filippyne op 12 Oktober 2013 getref het en waarin ten minste 13 mense gesterf het.

Die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies dek onkoste verbonde aan hulle noodlenigingspogings met fondse wat tot die wêreldwye werk bygedra is. Die Bestuursliggaam bepaal ook hoeveel vaardige vrywilligers nodig is en sorg dan deur middel van hulle wêreldwye netwerk van takkantore dat bekwame personeel voorsien word om met die noodlenigingswerk te help, waar hulle met die plaaslike owerheid en ander noodlenigingsorganisasies saamwerk.

Dean Jacek, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in die Filippyne, het gesê: “Ons is baie bedroef oor die groot lewensverlies wat deur hierdie onlangse rampe veroorsaak is. Weens die verwoesting sowel as die trauma waaraan die slagoffers ly, is daar ’n groot behoefte aan vertroosting. Ons sal ons bes doen om voort te gaan om noodleniging en geestelike hulp aan ons vriende en bure te verskaf.”

Mediaverteenwoordiger(s):

Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Filippyne: Dean Jacek, tel. +63 2 411 6090

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000