Spring na inhoud

26 APRIL 2017
FILIPPYNE

Getuies organiseer herbouwerk ná die supertifoon Nock-Ten

Getuies organiseer herbouwerk ná die supertifoon Nock-Ten

MANILA, Filippyne—Jehovah se Getuies in die Filippyne het met ’n groot noodlenigingsprojek begin om huise te herstel en te herbou. Die huise is beskadig en party is heeltemal verwoes deur die supertifoon Nock-Ten (plaaslik bekend as “Nina”).

Jason Dotimas (links) en Bethel Alvarez (regs), twee van die Getuie-konstruksiewerkers wat gehelp het om ’n Koninkryksaal te herbou in die dorp Polangui, Filippyne. Hulle het albei meer as 650 kilometer gereis om met die noodlenigingswerk te help.

Op 25 Desember 2016 het Nock-Ten, ’n kategorie 4-tifoon, die Bicol-streek getref en wydverspreide verwoesting veroorsaak. Volgens verslae is 10 mense in die storm dood en meer as 390 000 geboue is beskadig. Geen Getuies van Jehovah wat in die gebied woon, is dood of ernstig beseer nie. Maar meer as 300 van die Getuies se huise en 24 van hulle plekke van aanbidding (Koninkryksale) is beskadig of heeltemal verwoes. Die takkantoor van Jehovah se Getuies in die Filippyne het ’n noodlenigingskomitee in die stad Naga georganiseer om Getuie-gesinne wat deur die ramp geraak word, te help.

“Sover het ons vrywilligers as deel van die noodlenigingswerk 271 huise van ons mede-aanbidders sowel as 22 Koninkryksale herbou. Daar is nog 38 huise en 2 Koninkryksale wat herstel moet word. Ons noodlenigingsbouspanne beplan om die werk teen die einde van April 2017 te voltooi”, het Dean Jacek gesê, ’n woordvoerder van Jehovah se Getuies in die Filippyne.

Noodlenigingshuise wat voltooi is. Daar word gebruik gemaak van ’n metode om huise vooraf te vervaardig en dan binne ses dae op die perseel aanmekaar te sit.

Die wêreldwye werk van Jehovah se Getuies, insluitende noodlenigingswerk, word deur hulle Bestuursliggaam georganiseer en deur vrywillige bydraes ondersteun. Daar is meer as 8 miljoen Jehovah se Getuies wêreldwyd en 209 000 van hulle woon in die Filippyne.

Mediaverteenwoordigers:

Internasionaal: David A. Semonian, Office of Public Information, +1-845-524-3000

Filippyne: Dean Jacek, +63-2-224-4444

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000