Spring na inhoud

1 NOVEMBER 2016
FILIPPYNE

Getuies organiseer noodleniging nadat twee tifone die Filippyne ná mekaar tref

Getuies organiseer noodleniging nadat twee tifone die Filippyne ná mekaar tref

Jehovah se Getuies staan medegelowiges en ander slagoffers by nadat tifoon Sarika (plaaslik bekend as Karen) en tifoon Haima (plaaslik bekend as Lawin) die eiland Luzon, in die noorde van die Filippyne, op 16 en 19 Oktober 2016 getref het. Tifoon Haima, ’n kategorie 4-tifoon, is een van die sterkste tifone wat die Filippyne getref het sedert die dodelike supertifoon Haiyan (plaaslik bekend as Yolanda) in 2013.

Nie een van die 200 000 Getuies van Jehovah in die Filippyne is dood of ernstig beseer in hierdie rampe nie. Maar vroeë berigte toon dat sterk winde, vloedwater en grondstortings wat deur tifoon Haima veroorsaak is, ten minste 1 058 huise van Getuies en 43 Koninkryksale, plekke van aanbidding, beskadig het.

Die takkantoor van Jehovah se Getuies in die Filippyne het ’n noodlenigingskomitee in die stad Tuguegarao, Luzon, georganiseer. Hulle is besig om noodlenigingsvoorraad soos kos en drinkwater bymekaar te maak. Sover is agt vragmotors met noodlenigingsvoorraad na die rampgebied gestuur. Die takkantoor het ook begin met die bou van tydelike behuising en die herstel van beskadigde huise en Koninkryksale.

Die Bestuursliggaam koördineer die noodlenigingspogings vanaf hulle wêreldhoofkwartier en gebruik fondse wat aan die Getuies se wêreldwye predikingswerk geskenk is.

Mediaverteenwoordigers:

Internasionaal: David A. Semonian, Office of Public Information, 1-718-560-5000

Filippyne: Dean Jacek, 63-2-224-4444

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000