Spring na inhoud

4 SEPTEMBER 2017
FINLAND

Jehovah se Getuies vertroos mense ná die aanval in Turku, Finland

Jehovah se Getuies vertroos mense ná die aanval in Turku, Finland

HELSINKI — Op Vrydagmiddag 18 Augustus 2017 is een van ons susters in Finland vermoor. Die saak word ondersoek en word beskou as ’n terroriste-aanval wat op vrouens gemik was. Behalwe vir ons suster het die aanvaller nog ’n vrou doodgemaak en agt mense beseer. Die aanval het plaasgevind op ’n markplein in Turku, ’n stad aan die suidwestelike kus van Finland. Onmiddellik ná die aanval het verteenwoordigers van die takkantoor in Finland, die plaaslike kringopsiener en plaaslike ouer manne diegene wat deur die aanval geraak is, vertroos en ondersteun.

Veikko Leinonen, ’n woordvoerder van die takkantoor in Finland, sê: “Wat gebeur het, is baie tragies en skokkend. Ons is veral hartseer dat een van ons geliefde pioniersusters in hierdie aanval vermoor is terwyl sy besig was met metro-getuieniswerk. Ons besef dat dit nie altyd moontlik is om “onvoorsiene gebeurtenisse”, insluitende gewelddadige aanvalle, te voorkom nie al is ’n mens versigtig. Maar ons hou aan om veral die familie van die suster wat doodgemaak is, te vertroos. Ons bid vir Jehovah om innerlike vrede te gee aan diegene wat diepe hartseer deurgaan as gevolg van hierdie verlies. Ons sal ook probeer om nie vreesbevange te word nie en om versigtig te wees terwyl ons aangaan met die predikingswerk.” — Prediker 9:11; Romeine 15:13; Filippense 4:6, 7.

Die takkantoor het ’n brief aan al die gemeentes in Finland gestuur om hulle emosioneel en geestelik te vertroos. Hulle het ook ’n spesiale vergadering gereël om die 135 broers en susters aan te moedig wat aan die metro-getuieniswerk in Turku deelneem. Die pioniers is dapper en ywerig om voort te gaan met openbare getuieniswerk.

Baie mense wat in Turku woon, is baie geskok deur die feit dat so ’n aanval in Finland gebeur het. Dit is ’n land wat dikwels beskryf word as een van die veiligste plekke in die wêreld. Die dag ná die aanval het ons broers simpatiek geluister en mense geestelik vertroos terwyl hulle op die markplein en van huis-tot-huis velddiens gedoen het.

Die takkantoor in Finland is dankbaar teenoor die wêreldwye broederskap vir hulle gebede en boodskappe van ondersteuning (1 Petrus 2:17; 5:9). Nog belangriker, ons dank almal Jehovah, “die God wat volharding en vertroosting verskaf”. — Romeine 15:5.

Mediaverteenwoordigers:

Internasionaal: David A. Semonian, Office of Public Information, +1-845-524-3000

Finland: Veikko Leinonen, +358-400-453-020