Spring na inhoud

Die takfasiliteite in Normandië, Frankryk, vandag

30 MEI 2023
FRANKRYK

Franse Bethel 50 jaar lank in Normandië

Franse Bethel 50 jaar lank in Normandië

In Januarie 2023 was dit 50 jaar sedert ons die takkantoor in die streek Normandië in Frankryk begin gebruik het. Op 9 Junie 1973, ses maande later, is hierdie fasiliteite toegewy.

Voordat die broers die geboue in Normandië gebou het, was al ons werk by Bethel in die stad Boulogne-Billancourt, naby Parys, georganiseer. Maar hierdie geboue het te klein geword om om te sien na die groei van die hoeveelheid Koninkryksverkondigers in die land. Lektuur was ook in die Verenigde State gedruk en na Frankryk gestuur. Dit het in die hawestad Le Havre, sowat 200 kilometer van die takkantoor, aangekom. Daarom het die broers, in ’n poging om die hoeveelheid tyd en reis te verminder en geld te spaar, na ’n eiendom tussen die twee stede begin soek waar hulle die bestaande Bethelfasiliteite kon uitbrei.

Die broers het uiteindelik ’n gepaste eiendom in die klein dorpie Louviers, in Normandië, gevind en gekoop. Dit is omtrent 100 kilometer vanaf Parys sowel as Le Havre. Daar is in 1972 met konstruksie op die eiendom begin, en dit het agt maande geneem.

Die aantal Koninkryksverkondigers het in die jare daarna geleidelik vermeerder. As gevolg van die vermeerdering was dit nodig om meer geboue op die eiendom in Normandië te bou. Daarna is ’n stuk grond daar naby gekoop en is nog woongeboue gebou. In 1996 het die res van die Bethelgesin wat in Boulogne-Billancourt gedien het, na Normandië getrek.

Die pamflet Wat dink jy van die Bybel? in 20 van die 24 tale wat vandag by die takkantoor in Frankryk vertaal word

Vandag is daar meer as 162 000 Koninkryksverkondigers wat die goeie nuus in 13 lande onder toesig van die takkantoor in Frankryk verkondig. En hoewel drukwerk in Normandië in 1998 opgehou het, is die fasiliteite herontwerp om ander aspekte van die Koninkrykspredikings- en onderrigtingswerk te ondersteun. Dit sluit in die vertaling van Bybelpublikasies in 24 tale. Die takkantoor doen ook verskeie videoproduksies. Daar is op die oomblik meer as 400 broers en susters wat by die takkantoor werk.

Ons is bly om te sien dat Jehovah die predikingswerk in Frankryk “bespoedig”! – Jesaja 60:22.