Spring na inhoud

5 FEBRUARIE 2015
FRANKRYK

Hoogste administratiewe hof in Frankryk beëindig diskriminasie

Hoogste administratiewe hof in Frankryk beëindig diskriminasie

Ná ons vergadering is ek gelukkig en neurie ek heeltyd. Jou besoeke is vertroostend, en die Bybelstudie gee my ’n doel in die lewe.

Ek wou julle net bedank vir die regs-, administratiewe en geestelike stappe wat julle gedoen het om hierdie kapelaanskap tot stand te bring.

Hierdie voorsiening is ’n antwoord op my gebede.

Dit is woorde van waardering deur gevangenes in Frankryk vir die geestelike hulp wat deur ’n bedienaar van Jehovah se Getuies gebied is.

Op 16 Oktober 2013 het Frankryk se hoogste administratiewe hof ’n beslissing gelewer wat ’n tydperk van diskriminasie teen Jehovah se Getuies in Frankryk beëindig het. Die hof se beslissing stel bedienaars van Jehovah se Getuies in staat om tronke as gesertifiseerde kapelane te besoek om geestelike hulp te verleen aan gevangenes wat ’n besoek aangevra het. *

Getuiebedienaars word kapelaansertifikate geweier

Tronkowerhede het Getuiebedienaars jare lank toegelaat om tronke te besoek om geestelike leiding en raad te voorsien ten spyte daarvan dat hulle nie ’n kapelaansertifikaat gehad het wat hulle amptelik as bedienaars erken nie. Dit het in 1995 begin verander nadat ’n Parlementêre Kommissie ’n omstrede verslag vrygestel het met ’n lys van sogenaamde gevaarlike sektes wat Jehovah se Getuies ingesluit het. Hierdie negatiewe klassifikasie het nie net die Getuies se reputasie skade aangedoen nie—dit het ook gelei tot ’n vlaag van diskriminasie teen hulle. Dit kon onder andere gesien word in die tronkstelsel.

Hoewel parlementêre verslae nie wetlik bindend is nie, het party tronkowerhede Getuiebedienaars op grond van die verslag van 1995 toegang geweier tot gevangenes wat geestelike hulp aangevra het. ’n Getuiebedienaar kon gevangenes onder gemene reg as ’n private burger besoek, maar nie in sy amptelike hoedanigheid as ’n bedienaar nie. Hy is nie meer toegelaat om ’n Bybel of enige godsdienslektuur saam te bring nie. Alle besoeke moes plaasvind in ’n openbare besoekerskamer in ’n atmosfeer wat nie bevorderlik was vir ’n geestelike bespreking nie. Een Getuiebedienaar het gesê dat die atmosfeer in die besoekerskamer “soos dié van ’n treinstasie was, met byna net soveel geraas”. By party tronkfasiliteite moes gevangenes ná ’n besoek hulle klere uittrek om deursoek te word omdat hulle nie deur ’n staatsgesertifiseerde kapelaan besoek is nie.

In ’n poging om dieselfde regte as gesertifiseerde bedienaars van ander godsdienste te verkry, het bedienaars van Jehovah se Getuies in 2003 by die Franse gevangenisadministrasie om kapelaansertifikate begin aansoek doen. Alle aansoeke is onvoorwaardelik geweier. Die Getuies het by ’n hoër administratiewe gesag teen hierdie arbitrêre en diskriminerende weiering geappelleer, maar dit is weer van die hand gewys. Die amptelike rede wat deur Frankryk se Departement van Justisie gegee is vir die weiering om Getuiebedienaars as kapelane te sertifiseer, was dat Jehovah se Getuies nie op die lys is van godsdienste wat gemagtig is om tronke te besoek nie. Die Departement het ook kommer uitgespreek dat dit, indien ’n kapelaansertifikaat aan een van Jehovah se Getuies toegestaan word, bloot ander godsdiensminderhede sal aanspoor om aansoek te doen om kapelaansertifikate. Ná hulle mislukte pogings om die saak deur middel van die Departement van Justisie op te los, het die Getuies geen ander keuse gehad as om die kwessie hof toe te neem nie.

Die regering se weiering om diskriminasie te beëindig

In 2006 het Jehovah se Getuies hofsake aanhangig gemaak sodat die weiering nietig verklaar kon word en die Departement van Justisie beveel kon word om kapelaansertifikate aan Getuiebedienaars toe te staan. Al die administratiewe howe en die Appèlhof wat oor die saak beslis het, het verklaar dat die regering se weiering onwettig is. En in 2010 het Frankryk se Hoë Gesag vir die Stryd teen Diskriminasie en vir Gelykheid die regering se standpunt veroordeel en aanbeveel dat die Minister van Justisie die diskriminasie beëindig.

Die Franse regering het nie net hierdie vermaning en die hofbeslissings geïgnoreer nie, maar het ook appèl aangeteken by die Staatsraad, Frankryk se hoogste administratiewe hof.

Geskiedkundige beslissing ten gunste van Jehovah se Getuies

In 2013 het die Getuiesake uiteindelik voor die Staatsraad gekom, wat nege soortgelyke sake gekombineer en terselfdertyd aangehoor het. In die hof se beslissing op 16 Oktober 2013 het dit die appèlaansoeke van die Franse regering geweier. Ten einde ’n gevangene se regte te respekteer, het die hof die gevangenisadministrasie aangesê om, “sodra die versoek gerig word, ’n voldoende aantal godsdiensbedienaars as kapelane te sertifiseer, slegs onderhewig aan die fasiliteit se vereistes vir veiligheid en goeie orde”. Verder het die Staatsraad, met verwysing na die Franse Grondwet en die Europese Konvensie oor Menseregte, verklaar dat “gevangenes se vryheid van mening, gewete en godsdiens gewaarborg is en dat hulle die godsdiens van hulle keuse mag beoefen”. Danksy hierdie beslissing is daar tot dusver 105 kapelaansertifikate in Frankryk uitgereik, insluitende in sy oorsese gebiedsdele, wat dit vir gevangenes moontlik maak om herderlike besoeke van Jehovah se Getuies te ontvang.

In Januarie 2014 het die Franse gevangenisadministrasie een van Jehovah se Getuies, Jean-Marc Fourcault, as die nasionale kapelaan van Jehovah se Getuies aangestel. In hierdie hoedanigheid het mnr. Fourcault toegang tot alle tronke in Frankryk. Hy is ook gemagtig om as die verteenwoordiger van Jehovah se Getuies voor die gevangenisadministrasie op te tree. Mnr. Fourcault sê: “Van nou af sal kapelane van Jehovah se Getuies, net soos verteenwoordigers van ander gemagtigde godsdienste, gevangenes privaat kan besoek op waardige en gepaste plekke, soms in hulle eie sel.”

Hierdie beslissing is ’n belangrike oorwinning vir godsdiensvryheid in Frankryk. Dit bevestig dat gevangenes die reg het om die godsdiens van hulle keuse te beoefen en om deur ’n bedienaar van hulle keuse besoek te word. Jehovah se Getuies is dankbaar dat Franse howe hierdie diskriminasie beëindig het, ’n blyk van verdere vooruitgang in die erkenning van Jehovah se Getuies as ’n godsdiens in Frankryk.

^ par. 6 Party gevangenes word Jehovah se Getuies nadat hulle gedurende hulle tyd in die tronk met Getuies in aanraking gekom het. Ander het vroeër kontak met die Getuies gehad of is in Getuiegesinne grootgemaak voordat hulle ’n misdaad gepleeg het en wil nou terugkeer na die gemeente. Ongeag die rede vir hulle versoek om in die tronk deur ’n bedienaar van Jehovah se Getuies besoek te word, is hierdie persone geregtig op dieselfde godsdiensvryhede as gevangenes van ander godsdienste.