Spring na inhoud

14 OKTOBER 2014
GEORGIË

Die Europese Hof van Menseregte handhaaf die oppergesag van die reg in Georgië

Die Europese Hof van Menseregte handhaaf die oppergesag van die reg in Georgië

Op 7 Oktober 2014 het die Europese Hof van Menseregte (EHMR) ten gunste van Jehovah se Getuies in die Republiek van Georgië beslis. Die saak, Begheluri and Others v. Georgia, is meer as 12 jaar gelede by die Hof aanhangig gemaak, en 99 slagoffers in 30 gevalle van fisiese en mondelinge mishandeling was daarby betrokke. Alle slagoffers behalwe een was Jehovah se Getuies. Die voorvalle het begin met die polisie se gewelddadige ontwrigting van etlike groot godsdiensvergaderinge en het toe ontaard in wydverspreide geweld om godsdiensredes in die Getuies se huise, in howe en op straat.

Die EHMR se beslissing het gemeld dat die aansoekers ongeveer 160 klagte by die ondersoekowerheid ingedien het, waarin daar aangevoer is dat die polisie en ander owerhede regstreeks by party van die aanvalle betrokke was. Maar dit het geen resultate opgelewer nie. Die feit dat die oortreders ongestraf gebly het, het hulle in hulle kwaad gesterk, sodat hulle hulle aanvalle voortgesit het.

Die aanval op 8 September 2000 teen ’n godsdiensbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Zoegdidi

Byvoorbeeld, op 8 September 2000 het sowat 700 Getuies vir ’n godsdiensvergadering in die stad Zoegdidi bymekaargekom. Skielik het ’n SWAT-span van gemaskerde polisiemanne ingestorm en die strukture wat vir die byeenkoms opgerig is, aan die brand gesteek en ongeveer 50 van die aanbidders aangerand. Die slagoffers het onmiddellik klagte ingedien. Maar die owerheid het geweier om die oortreders te vervolg, wat die slagoffers sonder hulp deur die gereg gelaat het.

EHMR veroordeel die owerhede se versuim om daadwerklik op te tree

Aangesien wetstoepassingsowerhede nie onmiddellike en doeltreffende ondersoeke ingestel het en die oortreders nooit gestraf is nie, het die slagoffers in 2002 saam ’n aansoek by die EHMR ingedien.

In sy beslissing van 7 Oktober het die EHMR gesê dat “die Georgiese owerheid die gedagte bevorder het dat oortreders ongestraf kan bly, wat op die ou end verdere aanvalle teen Jehovah se Getuies regoor die land bevorder het”. Die Hof het ook gesê dat die gewelddadige aanvalle “deur ’n onverdraagsame gesindheid teenoor die gemeenskap van Jehovah se Getuies veroorsaak is” en dat die wetstoepassingsowerhede “dieselfde diskriminerende denke [geopenbaar het], wat bevestig het dat die owerheid hierdie geweld ten minste geduld het”.

‘Die Georgiese owerheid het die gedagte bevorder dat oortreders ongestraf kan bly, wat op die ou end verdere aanvalle teen Jehovah se Getuies regoor die land bevorder het.’

Begheluri and Others v. Georgia, nr. 28490/02, 7 Oktober 2014, bl. 40, par. 145

Gevolglik het die EHMR beslis dat Georgiese owerhede hulle skuldig gemaak het aan onmenslike behandeling van 47 van die aansoekers en dat hulle teen 88 van die aansoekers gediskrimineer het en hulle godsdiensvryheid geskend het. Die EHMR het die regering beveel om “’n einde te maak aan die skendings wat die Hof bevind het en om te vergoed vir die gevolge” van sy versuim om op te tree en sy “onverdraagsame gesindheid”. Die EHMR het die regering ’n boete opgelê van meer as R630 000 om die slagoffers te vergoed vir morele skade en regskoste.

Beter toestande vir Jehovah se Getuies in Georgië

Hoewel die situasie sedert 2004 baie verbeter het, is die Getuies in Georgië nog steeds die slagoffers van sporadiese aanvalle en teistering. In 2013 is 53 gevalle van geweld teen die Getuies aangemeld. Die Begheluri-beslissing verplig die Georgiese owerheid om misdade teen sy burgers onmiddellik en doeltreffend te ondersoek. Jehovah se Getuies verwag dat die regering, sonder vooroordeel teen hulle, persone sal vervolg en straf wat om godsdiensredes misdade pleeg.