Spring na inhoud

GEORGIË

Oorsig van Georgië

Oorsig van Georgië

Jehovah se Getuies is al sedert 1953 in Georgië bedrywig. Hulle is wettig geregistreer en kan hulle godsdiens gewoonlik ongesteurd beoefen. Soms is daar egter probleme, aangesien godsdiensonverdraagsaamheid van tyd tot tyd kop uitsteek.

Van 1999 tot 2003 het godsdiensekstremiste ’n wrede en onversetlike vlaag van vervolging teen Jehovah se Getuies ontketen. Aanvallers is in hulle kwaad gesterk omdat wetstoepassingsinstansies geweier het om hulle te straf. Gedurende daardie tyd het ’n uiters nasionalistiese parlementslid dit tydelik reggekry om die registrasie van die Getuies se regsentiteite in te trek, en dit het bygedra tot ’n toename in geweld. Die Getuies het ses aansoeke by die Europese Hof van Menseregte (EHMR) ingedien om die probleme op te los. Die EHMR het, in 2007 en 2014, twee eenparige uitsprake gelewer wat die regering daarvoor veroordeel het omdat hulle optrede in verband met die misdade wat om godsdiensredes teen die slagoffers gepleeg is, nie vinnig, doeltreffend en sonder vooroordeel was nie. In 2015 het die EHMR die regering se erkenning dat hulle die Getuies se regsentiteite in 2001 ongrondwetlik ingetrek het, eenparig aanvaar.

Sedert 2004 het die geweld teen Jehovah se Getuies aansienlik afgeneem. Hulle kon hulle bedrywighede uitbrei en talle Koninkryksale bou. Maar hulle word soms nog om godsdiensredes aangeval en geteister. Die probleem word vererger omdat regeringsowerhede dikwels niks omtrent hierdie misdade doen nie. Die Getuies verwag dat die regering van Georgië ten volle gehoor moet gee aan die EHMR se uitsprake om hierdie gewelddade onmiddellik te ondersoek en om diegene te vervolg wat daarvoor verantwoordelik is.