Spring na inhoud

22 JUNIE 2015
GEORGIË

Europese Hof van Menseregte aanvaar Georgië se erkenning dat dit die regte van Jehovah se Getuies geskend het

Europese Hof van Menseregte aanvaar Georgië se erkenning dat dit die regte van Jehovah se Getuies geskend het

Die Europese Hof van Menseregte (EHMR) het die Georgiese regering se erkenning aanvaar dat dit die regte van Jehovah se Getuies in verband met vryheid van godsdiens en assosiasie geskend het. Die hofsaak Vereniging van Jehovah se Getuies en ander teen Georgië het gehandel oor die regering se kansellasie van die registrasie van twee regsentiteite wat deur Jehovah se Getuies gebruik word. Die kansellasie het bygedra tot ’n toename in geweld teen die Getuies tussen 2001 en 2004.

EHMR aanvaar Georgië se skulderkenning

In sy beslissing wat op 21 Mei 2015 * gepubliseer is, het die EHMR gesê dat die regering in September 2014 ’n eensydige verklaring ingedien het waarin dit met spyt erken het dat dit die regte van Jehovah se Getuies geskend het. Die verklaring het verder erken dat Georgië se kansellasie van die registrasie van die Getuies se regsentiteite in 2000 “nie geregverdig” was nie en dat die gebrek aan gepaste wetgewing hierdie entiteite die geleentheid ontneem het om geregistreer te word.

Die EHMR het die regering se erkenning as genoegsame rede aanvaar om die saak te skik. Die EHMR het gesê dat “die betrokke owerhede die aansoekende organisasies se reg op vryheid van godsdiens en assosiasie geskend het deur die registrasie van verskillende godsdiensgroepe te weier of deur hulle registrasie te kanselleer, wat in stryd is met Artikel 11 van die Konvensie in die lig van Artikel 9”. Die regering het ingestem om 6 000 euro te betaal vir skadevergoeding en onkoste.

Die kansellasie van regsentiteite se registrasie lei tot jare se vervolging

Die twee entiteite, die Vereniging van Jehovah se Getuies en die Verteenwoordigende Liggaam van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap (VSA) in Georgië, is in 1998 wetlik geregistreer. Maar ’n uiters nasionalistiese parlementslid wou hê dat Jehovah se Getuies regoor Georgië verbied moet word. Party Ortodokse godsdiensleiers en ekstremiste het hom ondersteun deur laster te versprei en geweld teen die Getuies aan te hits.

In April 1999 het die parlementslid, as die verteenwoordiger van sy politieke party, ’n klag by die Isani-streekhof van Tbilisi ingedien om ’n verbod op Jehovah se Getuies te laat plaas en om die registrasie van hulle twee regsentiteite te laat kanselleer. Die dag toe die saak in Junie 1999 begin het, was daar Ortodokse priesters en hulle ondersteuners in die hofsaal. Buite die hofsaal het ’n Ortodokse priester wat van sy amp onthef is, Wasili Mkalawisjwili, en sy volgelinge godsdienslektuur van Jehovah se Getuies in die openbaar verbrand.

Nadat die Isani-Samgori-verhoorhof die bewyse ondersoek het, het dit bevind dat die parlementslid se bewerings ongegrond is. Hy het toe appèl aangeteken. Op 26 Junie 2000 het die appèlhof die verhoorhof se beslissing nietig verklaar en beveel dat die registrasie van die Getuies se regsentiteite gekanselleer word. Ná die beslissing het Ortodokse ekstremiste die situasie uitgebuit deur etlike gewelddadige aanvalle teen die Getuies aan te stook. Op 22 Februarie 2001 het die Hooggeregshof van Georgië die kansellasie tydens die appèlsaak bevestig en beweer dat ’n gebrek aan gepaste wetgewing die hof gedwing het om teen die Getuies te beslis. Aangesien daar geen plaaslike hulp meer beskikbaar was nie, het Jehovah se Getuies op 16 Augustus 2001 ’n aansoek by die EHMR ingedien.

Ná die Hooggeregshof se beslissing het vervolging en geweld teen die Getuies aansienlik toegeneem, wat tot honderde aanvalle gelei het. In die meeste gevalle het wetstoepassingsowerhede nagelaat om die Getuies te beskerm en, in party gevalle, het hulle selfs aan die geweld deelgeneem. Baie Getuies is ernstig beseer. Godsdiensekstremiste het geweld gebruik om hulle godsdiensvergaderinge te onderbreek, hulle huise deursoek en verbrand, persoonlike besittings gesteel of vernietig en godsdienslektuur verbrand. Owerhede het Getuies toestemming geweier om lektuur in te voer en het toe beslag gelê op publikasies wat reeds ingevoer is. Die owerhede het die Getuies ook nie toegelaat om gehuurde fasiliteite vir godsdiensvergaderinge te gebruik nie. Omdat die vervolging so erg was en die regering geweier het om die slagoffers te beskerm, het Jehovah se Getuies in Georgië aansoeke by die EHMR ingedien wat die aandag gevestig het op hierdie mishandeling en die medepligtigheid van wetstoepassingsowerhede. Die EHMR het reeds in twee sake in verband met hierdie kwessie ten gunste van die Getuies beslis. *

Namate die situasie in Georgië verbeter het, kon die Getuies weer hulle regsentiteite registreer sodat hulle eiendom kan besit en na hulle regsbelange kan omsien. Gedurende hierdie tyd het die Georgiese owerhede Mkalawisjwili, wat hoofsaaklik verantwoordelik was vir die geweld, en ’n paar van sy ondersteuners, in hegtenis geneem. Die hewige vervolging van die Getuies het in 2004 tot ’n einde gekom.

Die huidige situasie

Hoewel die manier waarop Jehovah se Getuies in Georgië behandel word, oor die jare verbeter het, word hulle godsdiensbedrywighede nog steeds nou en dan versteur. ’n Onlangse verslag wat by die Organisasie vir Veiligheid en Samewerking in Europa ingedien is, het geopenbaar dat daar 63 haatmisdade in die 2014-kalenderjaar teen Jehovah se Getuies in Georgië gepleeg is.

Micheal Jones, ’n plaaslike verteenwoordiger van Jehovah se Getuies, het gesê: “Ons is dankbaar dat die Europese Hof van Menseregte erken het hoe onregverdig die Getuies die afgelope jare behandel is. Ons is bly om te sien dat Georgië vasbeslote is om menseregte te beskerm, en ons hoop dat hierdie onlangse beslissing, tesame met ander gunstige beslissings deur die Hof, vir Jehovah se Getuies in Georgië regverdige behandeling en selfs groter godsdiensvryheid sal beteken.”

^ par. 4 Die EHMR het op 21 April 2015 oor die saak beslis, maar het die beslissing eers ’n maand later gepubliseer.

^ par. 10 Lede van die Gldani-gemeente van Jehovah se Getuies en ander teen Georgië, nr. 71156/01, 3 Mei 2007; en Begheloeri teen Georgië, nr. 28490/02, 7 Oktober 2014.