Spring na inhoud

15 APRIL 2015
GEORGIË

Jehovah se Getuies begin in April met ’n inligtingsveldtog

Jehovah se Getuies begin in April met ’n inligtingsveldtog

Op 1 April 2015 het Jehovah se Getuies ’n inligtingsveldtog begin wat gemik is op alle polisiestasies, munisipaliteite en aanklaerskantore regoor die Republiek van Georgië. Die doel van hierdie veldtog is om mense bewus te maak van ’n onlangse, betekenisvolle beslissing deur die Europese Hof van Menseregte (EHMR), Begheloeri en ander teen Georgië, wat verband gehou het met die skending van Jehovah se Getuies se regte in Georgië. Die veldtog voorsien inligting aan wetstoepassingsamptenare oor die feite van die saak, die beslissing en die godsdiensbedrywighede van Jehovah se Getuies.

Geweld in Georgië is in die verlede toegelaat

Van 1999 tot 2003 het volgelinge van ’n voormalige Georgies-Ortodokse priester skares aangehits om Jehovah se Getuies wreed aan te rand. Hoewel die Getuies altesaam 784 klagtes by die polisie ingedien het in verband met hierdie en soortgelyke gevalle, het amptenare die geweld teen die Getuies geïgnoreer of hulle soms self daaraan skuldig gemaak. Geen van die Getuies se klagtes het enige vrugte afgewerp nie. Die Georgiese owerheid se versuim om op te tree, het die oortreders in hulle kwaad gesterk, en hulle het Getuies toe selfs in howe, by groot godsdiensbyeenkomste en op die straat aangerand.

EHMR se beslissings bring ’n verandering teweeg

Jehovah se Getuies in Georgië het twee versoeke by die EHMR ingedien om iets omtrent die aanvalle te doen. Die Hof het in Mei 2007 * oor die eerste saak beslis, en in Oktober 2014 oor die tweede saak—Begheloeri en ander teen Georgië. In al twee beslissings het die EHMR die Georgiese Staat se betrokkenheid by die aanvalle veroordeel, wat die Staat se onverskilligheid en ’n toename in geweld duidelik met mekaar verbind het. Soos die EHMR in die Begheloeri-beslissing gesê het, het “die Georgiese owerheid die gedagte bevorder . . . dat oortreders ongestraf kan bly, wat op die ou end verdere aanvalle teen Jehovah se Getuies regoor die land bevorder het”. *

Dit is prysenswaardig dat die Georgiese regering die dag ná die Begheloeri-beslissing ’n verklaring uitgereik het waarin dit belowe het om in die toekoms mishandeling te voorkom:

“Georgië verbind hom daartoe om vryheid van denke, gewete en godsdiens te beskerm, asook menseregte oor die algemeen. Die land is vasbeslote om regsgelykheid en aanspreeklikheid vir menseregteskendings te verseker. Dit sal beslis nooit weer toelaat dat die gedagte bevorder word dat oortreders ongestraf kan bly of dat sulke mishandeling geduld word nie.”

Toestande in Georgië verbeter

Jehovah se Getuies in Georgië geniet nou baie beter omstandighede as in vorige jare. Getuies kan in vrede aanbid en is dankbaar dat wetstoepassingsamptenare hulle regte nou oor die algemeen beskerm. Jehovah se Getuies kon huise van aanbidding bou en het onlangs hulle hoofkwartier in die streek uitgebrei.

Party amptenare weet egter min omtrent Jehovah se Getuies en hulle oortuigings of weet moontlik niks omtrent die Begheloeri-beslissing of die regering se amptelike verklaring nie. Wat meer is, Jehovah se Getuies word nog steeds om godsdiensredes aangeval, en hierdie oortredings bly dikwels ongestraf—in 2014 was daar byvoorbeeld ten minste 30 gevalle van fisiese geweld teen hulle. Jehovah se Getuies het in verband met hierdie voorvalle nog aansoeke by die EHMR ingedien. *

Die veldtog wat in April begin is om amptenare in te lig, behoort regoor Georgië respek vir menseregte verder te bevorder. Jehovah se Getuies is dankbaar dat die Georgiese regering hom daartoe verbind het om nooit weer die gedagte te bevorder dat sulke oortredings ongestraf kan bly nie, en hulle verwag dat die regering vasbeslote sal bly om diegene te straf wat ander weens godsdienshaat mishandel.

^ par. 6 Lede van die Gldani-gemeente van Jehovah se Getuies en ander teen Georgië, nr. 71156/01, 3 Mei 2007.

^ par. 6 Begheloeri en ander teen Georgië, nr. 28490/02, § 145, 7 Oktober 2014.

^ par. 11 Tsartsidze teen Georgië, nr. 18766/04, aanhangig gemaak op 26 Mei 2004 — Individue wat deur die toedoen van staatsamptenare gely het of aangeval is terwyl amptenare toegekyk het; Biblaia en ander teen Georgië, nr. 37276/05, aanhangig gemaak op 10 September 2005 — Individue wat deur die toedoen van staatsamptenare gely het of aangeval is terwyl amptenare toegekyk het; Tsoeloekidze en ander teen Georgië, nr. 14797/11, aanhangig gemaak op 27 Januarie 2011 — Versuim om voldoende ondersoek in te stel en om regstappe te doen in verband met nege aanvalle wat deur godsdiensonverdraagsaamheid gemotiveer is.