Spring na inhoud

Links bo: ’n Verteenwoordiger van die takkantoor in Ghana bespreek ’n deel van die uitstalling. Links onder: Buite Ghana se Nasionale Museum in Accra, Ghana. Regs: Verskeie dele van die spesiale uitstalling

19 JUNIE 2024
GHANA

Aandag gevestig op vertaalwerk van Jehovah se Getuies by Ghana se Nasionale Museum

Aandag gevestig op vertaalwerk van Jehovah se Getuies by Ghana se Nasionale Museum

Van 11 April tot 11 Junie 2024 het Ghana se Nasionale Museum in Accra, Ghana, ’n spesiale uitstalling gehad met die titel “Geletterdheid en Bybelonderrigting word in die plaaslike tale van Ghana bevorder”. Meer as 1 300 mense het die uitstalling bygewoon.

In 1937 het Jehovah se Getuies begin om Bybelpublikasies in Ghana te vertaal. Ghana het toe as die Goudkus bekend gestaan. Vandag vertaal die takkantoor in Ghana lektuur in 12 Ghanese tale. Die uitstalling het video’s en publikasies ingesluit sowel as ander geskiedkundige items wat mense gehelp het om te sien wat die Getuies in Ghana gedoen het. Dit het ook verduidelik hoe maklik dit is om vertaalde materiaal op jw.org te vind en te gebruik.

Ghana se Nasionale Museum en ’n span van vier professors van die Universiteit van Ghana het saam met die takkantoor gewerk om die uitstalling bymekaar te sit. Hierdie professors het die vertaalmetodes van Jehovah se Getuies studeer omdat hulle die Ghanese regering se geletterdheid- en vertaalprogramme wil verbeter. As deel van die navorsing het een van die professors, Dr. Araba Osei-Tutu, die Wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Warwick, New York, VSA, besoek. Die span professors het ook ’n toer gedoen by die takkantoor in Ghana.

Links: Dr. Araba Osei-Tutu praat gedurende die uitstalling se openingseremonie. Regs: ’n Uitstalling van lektuur in baie Ghanese tale

Dr. Osei-Tutu het in haar toespraak by die uitstalling se opening gesê: “Jehovah se Getuies speel ’n belangrike rol in die ontwikkeling van geletterdheid, veral in ons plaaslike tale. . . . Ons neem hierdie geleentheid om . . . ons waardering uit te spreek aan almal wat al by hierdie werk betrokke was.”

Ná ’n toer van die uitstalling het Professor Yaw Sekyi-Baidoo van die Universiteit van Onderwys in Winneba gesê: “Ek het Jehovah se Getuies nog altyd as opvoeders beskou, maar ek is verbaas om te sien hoeveel vertaalwerk hulle doen.”

Professors van die Universiteit van Ghana, werkers by Ghana se Nasionale Museum en ander professors neem ’n foto saam met party van die broers en susters wat by die uitstalling gehelp het

’n Woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Ghana het gesê: “Dit is aanmoedigend om te sien hoe Jehovah se volk openbare erkenning kry vir die positiewe uitwerking wat hulle onderrigtingswerk op hulle gemeenskappe het. Dit is duidelik dat Jehovah ons pogings seën om mense van alle soorte te help om hom te leer ken.” – Johannes 17:3.