Spring na inhoud

20 OKTOBER 2015
GHANA

Getuies in Ghana tree onmiddellik op ná oorstromings

Getuies in Ghana tree onmiddellik op ná oorstromings

ACCRA, Ghana—Teen die einde van Augustus 2015 het Jehovah se Getuies hulle noodlenigingspogings afgehandel in die hoofstad van Ghana, Accra, waar hewige oorstromings eiendomme verwoes het en die dood van meer as 200 mense veroorsaak het.

Plaaslike Getuies wys die waterlyn op ’n medeaanbidder se huis

Nie een van die Getuies het hulle lewens verloor nie, maar sowat 250 van hulle het hulle huise verloor. Op 4 Junie 2015, die dag ná die oorstroming, het die takkantoor van Jehovah se Getuies in Ghana ’n noodlenigingskomitee saamgestel wat na mense se onmiddellike behoeftes omgesien het deur komberse, klere en water te voorsien. Die noodlenigingskomitee het ook gereël om huise wat oorstroom het, skoon te maak en te herstel. Getuies in die Accra-gebied het hulp verleen deur hulle huise oop te maak om medegelowiges wat hulle huise verloor het, tydelik te huisves.

Die voorsitter van die Noodlenigingskomitee, Dossou Amevor (ver links) hou toesig oor die uitdeling van matrasse by die Atiman-Koninkryksaal in Madina, Accra

Oorstromings het ’n ontploffing by ’n vulstasie veroorsaak wat pype in Adabraka beskadig het en die gebied se watertoevoer afgesny het. Die takkantoor het ’n watertenk vir die Getuies en hulle bure by die Koninkryksaal (’n plek van aanbidding) in Adabraka opgestel.

Op Saterdag 6 Junie het die takkantoor twee mediese spanne, altesaam vyf Getuiedokters en twee Getuieverpleegsters, gestuur om na medeaanbidders en ander slagoffers in Alajo en Adabraka om te sien. Hulle het behandeling vir verskeie gesondheidsprobleme, soos malaria, borsinfeksies en diarree, voorsien. Verteenwoordigers van die takkantoor en plaaslike Getuies het ook hulle medeaanbidders besoek om geestelike en emosionele vertroosting te bied.

Drie Getuiedokters en twee Getuieverpleegsters in die Koninkryksaal in Adabraka, wat as ’n behandelingsfasiliteit gebruik is

’n Woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Ghana, Nathaniel Gbedemah, sê: “Ons is bedroef deur die verwoesting en lewensverlies wat deur die oorstromings in Accra veroorsaak is. Ons doen, soos Jehovah se Getuies in ander dele van die wêreld, alles in ons vermoë om te voorsien in die emosionele, fisiese en geestelike behoeftes van diegene in ons gemeenskap wat deur hierdie ramp geraak is.”

Mediaverteenwoordiger(s):

Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Ghana: Nathaniel Gbedemah, tel. +233 30 701 0110

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000