Spring na inhoud

Minos Kokkinakis: Saam met ander Getuies in gevangenskap en later in sy lewe.

7 JANUARIE 2019
GRIEKELAND

’n Baie lang stryd vir die reg om te preek

’n Baie lang stryd vir die reg om te preek

Tagtig jaar gelede is Minos Kokkinakis as ’n gevangene na die afgesonderde eiland Amorgós in die Egeïese See gestuur, waar hy 13 maande lank in gevangenskap sou wees. Op daardie stadium het Griekeland ’n nuwe wet gehad wat gesê het dat mense nie vir ander kon preek met die doel om hulle van godsdiens te verander nie. ’n Hof het gesê dat broer Kokkinakis hierdie wet oortree het, en hy is gestraf sonder dat hy homself kon verdedig. Hy is die eerste van 19 147 Jehovah se Getuies wat van 1938 tot 1992 in hegtenis geneem is omdat hulle hierdie wet oortree het. Hierdie wet is deur die Griekse diktator Ioannis Metaxas ingestel. Gedurende daardie 50 jaar het honderde Griekse broers en susters moedig die goeie nuus verkondig selfs al is hulle geslaan, gearresteer en tronk toe gestuur.

Broer Kokkinakis was omtrent 30 jaar oud toe hy met hierdie regstryd begin het om die reg te kry om met ander oor sy geloofsoortuigings te praat. Hierdie regstryd het die volgende 50 jaar van sy lewe aangehou. Hy is meer as 60 keer in hegtenis geneem. En hy was ook meer as 6 jaar lank in tronke en op eilande wat as tronke gebruik is. Hy en ander Getuies wat saam met hom in die tronk was, het deur verskriklike dinge gegaan. Hy was 77 jaar oud toe hy vir die laaste keer gearresteer is. Hy het vir die hof gesê dat sy arrestasie onregverdig was, maar die hof het teen hom beslis. Daarom het hy sy saak by hoër howe geappelleer. Uiteindelik het die Hooggeregshof van Griekeland sy saak verhoor, maar ook teen hom beslis. Omdat Griekeland nie broer Kokkinakis se reg op godsdiensvryheid gerespekteer het nie, het hy na die Europese Hof van Menseregte (EHMR) gegaan sodat hulle sy saak kon verhoor. In 1993 het Minos Kokkinakis wat 84 jaar oud was, uiteindelik sy regstryd gewen. Dit is die eerste keer dat die EHMR ’n land skuldig bevind het omdat die land nie sy burgers toegelaat het om godsdiensvryheid te hê nie. a In 2018 was dit die 25ste herdenking van hierdie belangrike oorwinning. Volgens ’n professor van openbare internasionale wetgewing is Kokkinakis “seker die beslissing waarna die meeste verwys word in die Europese Hof van Menseregte wanneer dit kom by vryheid van godsdiens of oortuiging”.

Die Kokkinakis-beslissing dien as ’n voorbeeld waarvolgens soortgelyke sake geoordeel kan word. Dit is nou nog baie belangrik omdat magtige regerings soos Rusland nog steeds probeer om baie van ons broers se godsdiensvryheid weg te vat.

Broer Kokkinakis se geloof en volharding in die bediening is ’n uitstekende voorbeeld vir ons broers en susters wat ook vervolg word as gevolg van die predikingswerk. Omdat hy so getrou was, het dit ’n baie goeie getuienis gegee wat ons broers vandag nog help. – Romeine 1:8

a  Minos Kokkinakis het in Januarie 1999 gesterf.