Spring na inhoud

6 Mei 2015
GUATEMALA

Skole in Guatemala vra publikasies by Jehovah se Getuies aan om geweld onder jongmense te help verminder

Skole in Guatemala vra publikasies by Jehovah se Getuies aan om geweld onder jongmense te help verminder

MEXIKOSTAD—Drie skole in Guatemala het publikasies by Jehovah se Getuies aangevra vir hulle kurrikulum. Die Getuies het dus altesaam 3 500 lektuuritems in Spaans en Quiché geskenk. Quiché is ’n Indiaanse taal van die Maja-taalfamilie, wat in die westelike hooglande van Guatemala gepraat word.

Amptelike Plattelandse Laerskool vir seuns en meisies in Paraje Xepec: ’n Onderwyseres onderrig die klas met behulp van My boek met Bybelverhale en My Bybellesse, wat deur Jehovah se Getuies geskenk is.

Die skole het met Jehovah se Getuies in verbinding getree omdat hulle een van die min organisasies is wat lektuur in Quiché vervaardig en omdat etlike van hulle publikasies die probleme aanspreek waarmee jongmense in Guatemala te kampe het. In ’n amptelike dokument van die Amptelike Plattelandse Laerskool vir seuns en meisies in Paraje Xepec het professor Maria Cortez verduidelik dat die lektuur aangevra is “om die waardes en sedelike beginsels te red wat in die gemeenskap belangrik is”.

Elisa Molina de Sthall se Amptelike Plattelandse Skool vir seuns en meisies: Leerders lees uit My boek met Bybelverhale in Quiché.

Volgens onlangse studies is misdaad en geweld ’n algemene probleem onder jongmense in Guatemala. Daarom is organisasies soos die Program vir die Voorkoming van Geweld (VPP) in Guatemala gestig met die doel om “leerders, ouers, onderwysers, plaaslike owerhede en die gemeenskap te betrek om te besluit op veiligheidsones rondom skole en aktiwiteite en opleiding gedurende vakansietye vir jongmense en jong volwassenes te voorsien”. In ooreenstemming met hierdie inisiatiewe het die Nasionale Instituut van Basiese Onderwys met Landbou-oriëntasie (INEBOA), die Elisa Molina de Sthall se Amptelike Plattelandse Skool vir seuns en meisies (EORM) en die Amptelike Plattelandse Laerskool vir seuns en meisies in Paraje Xepec eksemplare van My boek met Bybelverhale in Quiché aangevra. Die INEBOA het ook Deel 1 en 2 van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, wat deur die Getuies vir jongmense saamgestel is, in Spaans aangevra. Die skool het vir ouers eksemplare van die boeke gegee sodat hulle hulle kinders kan help met die huiswerk vir kultuurklasse. Die skool het ook die video Die verlore seun keer terug, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee is, by hulle kurrikulum ingesluit.

Erick De Paz, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Guatemala, sê: “Hoewel ons gewoonlik probeer om mense by hulle huis van ons Bybelboodskap te vertel, is ons bly dat onderwysers en ouers ons publikasies kan gebruik om jongmense te help.”

Mediaverteenwoordiger(s):

Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Guatemala: Juan Carlos Rodas+502 5967 6015

Mexiko: Gamaliel Camarillo, tel. +52 555 133 3048

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000