15 MEI 2017
HAÏTI
Noodlenigingswerk in Haïti amper voltooi ná orkaan Matthew
PORT-AU-PRINCE, Haïti—Op 4 Oktober 2016 het orkaan Matthew baie verwoesting veroorsaak, en dit word beskou as die ergste storm wat Haïti in meer as vyftig jaar getref het. Dit is die ergste skade wat aangerig is sedert die aardbewing in 2010. Soos op 24 Oktober 2016 berig is op jw.org, het Jehovah se Getuies kos, medisyne en tente voorsien. Nadat daar op 1 Januarie 2017 vasgestel is hoeveel skade aangerig is, het die Getuies begin met ’n tweede fase van die noodlenigingswerk. Dit het ingesluit dat drie noodlenigingskomitees toesig hou oor 14 bouspanne wat uitgebreide herstelwerk gedoen het aan sowat 203 beskadigde en verwoeste huise. Die Getuies sal hulle noodlenigingswerk in Junie 2017 voltooi.
Daniel Lainé, ’n woordvoerder vir die Getuies se nasionale hoofkwartier in Port-au-Prince, sê: “Die doel van hierdie projek is om voldoende behuising te voorsien aan ons medegelowiges wie se huise erg beskadig is deur die storm.” Dit was nie ’n maklike projek nie. Mnr. Lainé verduidelik dat die skade aan die telefoonlyne en die paaie “dit moeilik gemaak het om ons noodlenigingswerk te doen”. Tot en met 20 April is 96 huise gebou, en daar is nog 30 huise wat voltooi moet word.
Plaaslike amptenare het erken dat die Getuies ’n goeie werk doen. Smith Mathurin, ’n verteenwoordiger in die parlement vir die gemeenskappe van Paillant en Petite Rivière de Nippes wat erg getref is, sê: “Al is dit Jehovah se Getuies se hoofdoel om die goeie nuus te verkondig, het hulle ook praktiese hulp voorsien aan diegene wat dit nodig het. Ek waardeer die groot bydrae wat Jehovah se Getuies gemaak het ná orkaan Matthew. Iets moes gedoen word, en julle het nie net in julle kerk gebly nie.”
Die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies koördineer die noodlenigingspogings vanaf hulle wêreldhoofkwartier in Warwick, New York, en hulle gebruik fondse wat aan die Getuies se wêreldwye Bybelonderrigtingswerk geskenk is.
Mediaverteenwoordigers:
Internasionaal: David A. Semonian, Office of Public Information, +1-845-524-3000
Haïti: Daniel Lainé, +509-2813-1560
Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000