Spring na inhoud

16 JUNIE 2016
HAÏTI

Die regering van Haïti vereer Getuies met ’n toekenning vir hulle hulp aan die gestremdes

Die regering van Haïti vereer Getuies met ’n toekenning vir hulle hulp aan die gestremdes

PORT-AU-PRINCE, Haïti—Die Minister van Buitelandse Sake vir die Integrasie van Mense met Gestremdhede in Haïti (BSEIPH) het ’n Toeganklikheid-toekenning aan die Christelike Vereniging van Jehovah se Getuies in Haïti gegee, wat erkenning verleen aan organisasies wat bystand bied aan gestremdes. Gedurende ’n seremonie wat deur die voormalige eerste minister, Evans Paul, bygewoon is, het Daniel Lainé, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Haïti, die toekenning in die kategorie “Kommunikasie en Tegnologie” aanvaar, soos gesien kan word in die foto hierbo. Die plegtigheid is op 3 Desember 2015 gehou sodat dit kon saamval met ’n dag wat erken word as die Internasionale Dag vir Mense met Gestremdhede.

Die Toeganklikheid-toekenning in die kategorie “Kommunikasie en Tegnologie” wat die Getuies op 3 Desember 2015 ontvang het.

Guerline Dardignac, personeelhoof van die BSEIPH, het kommentaar gelewer oor die Getuies se bydrae in hierdie opsig en het verduidelik dat “die Christelike Vereniging van Jehovah se Getuies in Haïti prysenswaardige pogings aanwend om mense met gestremdhede te laat deel voel van die gemeenskap. Die Vereniging neem nie net die fisiese toegang tot hulle geboue in ag deur fasiliteite vir mense met spesiale behoeftes te voorsien nie; dit vergemaklik ook kommunikasie en toegang tot tegnologie deur vergaderinge vir aanbidding en ander bedrywighede in gebaretaal (Amerikaanse Gebaretaal) te hou en deur braillepublikasies en video’s in gebaretaal te voorsien.”

In 2013 het die Getuies ’n Toeganklikheid-toekenning ontvang omdat hulle hulle vergaderplek in Cayes, Haïti, toegankliker gemaak het vir mense met gestremdhede.

Dit is die tweede toekenning wat die Getuies ontvang sedert die geweldige aardbewing in Haïti, waartydens meer as 222 000 mense gesterf het en sowat 300 000 beseer is—dit het veroorsaak dat die getal gestremde inwoners met sowat 15 persent gestyg het. Hulle het die eerste toekenning in 2013 ontvang toe die BSEIPH erkenning verleen het aan die Getuies omdat hulle hulle vergaderplek in Cayes, Haiti, toegankliker gemaak het vir mense met gestremdhede.

Mnr. Lainé sê: “Ons waardeer hierdie toekennings omdat dit erkenning verleen aan ons pogings om mense met gestremdhede te help, en ons is bly om hierdie dienste as deel van ons Bybelonderrigtingswerk te voorsien.

Mediaverteenwoordigers:

Internasionaal: David A. Semonian, Office of Public Information, 1-718-560-5000

Haïti: Daniel Lainé, 509-2813-1560

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000