Spring na inhoud

Links: Ingang van die gebou waar die streekbyeenkoms gehou was. Regs: Bywoners van die streekbyeenkoms luister aandagtig na die program

1 NOVEMBER 2023
INDIË

Getuies in Indië vertroos en ondersteun mekaar ná ontploffings by streekbyeenkoms

Getuies in Indië vertroos en ondersteun mekaar ná ontploffings by streekbyeenkoms

Soos vroeër op jw.org berig is, het daar op Sondag 29 Oktober 2023 ’n hele paar bomme ontplof by ’n streekbyeenkoms wat in Kerala, Indië, gehou was. Behalwe vir die twee susters wat aanvanklik gesterf het, het ’n 12-jarige dogtertjie ongelukkig ook gesterf as gevolg van die beserings wat sy opgedoen het. Nog 55 broers en susters is beseer, en party het ernstige brandwonde.

Op die oomblik is daar drie susters en twee broers wat in ’n kritiese toestand in die hospitaal is. Die owerhede het bevestig dat ten minste drie bomme omtrent 9:40 die oggend gedurende die openingsgebed ontplof het. Die man wat van hierdie aaklige daad verdink word, is nou in polisie-aanhouding, en ’n ondersoek is aan die gang.

Ons is baie dankbaar teenoor die noodpersoneel wat gou by die streekbyeenkomsterrein aangekom het om te help, en teenoor die hospitaalpersoneel wat vir die beseerdes sorg.

Dié wat die streekbyeenkoms bygewoon het, was ook baie dankbaar vir en aangemoedig deur die liefde en ondersteuning van hulle mede-gelowiges. ’n Suster wat in die ouditorium was toe die bomme ontplof het, onthou: “Ek het onmiddellik tot Jehovah begin bid. Die saalwagters, asook ander broers, het so mooi na ons gekyk en vinnig opgetree om seker te maak dat ons veilig is. Dit het gewys dat Jehovah elkeen van ons liefhet en vir ons omgee.”

Verteenwoordigers van die takkantoor in Indië, kringopsieners en plaaslike ouermanne hou aan om dié wat geaffekteer is, uit die Bybel te vertroos en op praktiese maniere te help. ’n Ouerman van die takkantoor wat na Kerala toe gegaan het om die broers en susters wat deur die aanval geaffekteer is, te vertroos, sê: “Alhoewel ons broers in skok is en baie pyn en trauma ervaar het, is ek aangemoedig deur die positiewe gesindheid van die broers wat beseer is. Ek het met baie van hulle gepraat. Om persoonlik te sien hoe hulle op Jehovah vertrou, versterk my eie geloof.”

As ’n wêreldwye broederskap bid ons vir die slagoffers se families en almal wat deur hierdie verskriklike tragedie in Indië geaffekteer is. Ons vind vertroosting en vrede in die Bybel se belofte van ’n toekoms sonder geweld, swaarkry en die dood. Ons is vasbeslote om aan te hou om ten volle op Jehovah te vertrou. – Psalm 56:3.