Spring na inhoud

Getuies groet mekaar hartlik by ’n spesiale program wat op 4 November 2023 in Kerala, Indië, gehou is

17 NOVEMBER 2023 | BYGEWERK: 8 DESEMBER 2023
INDIË

JONGSTE NUUS – Agt mense dood as gevolg van tragedie in Indië

JONGSTE NUUS – Agt mense dood as gevolg van tragedie in Indië

Op Saterdag 2 Desember 2023 het ’n 76 jarige broer, wat as ’n ouerman en gewone pionier gedien het, gesterf as gevolg van die beserings wat hy opgedoen het in die ontploffings in Kerala, Indië. Ongelukkig het sy geliefde vrou vyf dae later, op Donderdag 7 Desember, ook gesterf as gevolg van die beserings wat sy in die ontploffings gekry het. Sy was ook ’n gewone pionier. Altesaam agt van ons broers en susters het gesterf as gevolg van hierdie aaklige daad.

Op Sondag 29 Oktober 2023 het ’n hele paar bomme ontplof by ’n streekbyeenkoms wat in Kerala, Indië, gehou was. Behalwe vir die drie sterftes waaroor reeds berig is, het nog ’n broer en twee susters ongelukkig gesterf. Onder diegene is die ma en broer van die 12-jarige dogtertjie wat vroeër gesterf het. Daar is ook 11 broers en susters wat nog steeds in die hospitaal is.

Om diegene te vertroos en aan te moedig wat deur hierdie aanval geraak is, het die takkantoor in Indië goedkeuring gekry om ’n spesiale vergadering te reël. Dit is op 4 November 2023 gehou. Broers en susters van die 21 gemeentes wat na die streekbyeenkoms aangewys was waar die ontploffings plaasgevind het, is genooi om die spesiale vergadering by te woon. Die program is by ’n plaaslike Koninkryksaal gehou, waar amper 200 mense dit bygewoon het. Nog 1 300 het deur middel van videoverbinding by die program ingeskakel, en ’n opname is beskikbaar gemaak aan diegene wat nog in die hospitaal is. ’n Ouerman van die takkantoor het Psalm 23:1 bespreek en Jehovah se persoonlike besorgdheid vir elkeen van sy knegte beklemtoon: “In hierdie vers sê die psalmis nie dat Jehovah ’n herder of selfs ’n fantastiese herder is nie. Die psalmis verwys na Jehovah as ‘my herder’. Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat Jehovah in elkeen van ons persoonlik belangstel!”

Susters vertroos mekaar liefdevol

’n Broer wat daar was toe die bomme ontplof het, het erken dat hy nog steeds sukkel om te slaap. Ten spyte hiervan het hy aangebied om dié wat nog in die hospitaal is, te help. Hy het gesê: “Om hulle geloof en positiewe houding te sien, het my gehelp om van my eie bekommernisse te vergeet. Ondanks hulle beserings en die pyn wat hulle verduur, het baie van hulle Koninkryksliedjies met vreugde gesing.” Nog ’n broer het gesê: “Dit mag dalk ’n lang tyd neem vir party van hierdie liewe broers en susters om na hulle normale roetine terug te keer. Tog weet ek dat ons broers en susters sal aanhou om baie liefde vir hulle te wys. Ek is daarvan oortuig dat ons liefdevolle God elkeen van hulle met sy kragtige hand vashou. Dit is so aanmoedigend!”

As ’n verenigde wêreldwye familie vind ons vertroosting en versekering in die wete dat Jehovah sal aanhou om ons liewe broers en susters in Indië ‘wie se hart gebreek is, te genees en om hulle wonde te verbind’. – Psalm 147:3.