Spring na inhoud

31 OKTOBER 2019
INDIË

Jehovah se Getuies stel Bybel in Teloegoe-taal in Indië vry

Jehovah se Getuies stel Bybel in Teloegoe-taal in Indië vry

Op 25 Oktober 2019 het broer Ashok Patel, ’n lid van Indië se Takkomitee, die Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel in die Teloegoe-taal vrygestel. Hy het dit by die streekbyeenkoms in die Internasionale Byeenkomssentrum in Haiderabad, Indië, vrygestel.

Teloegoe is na Hindi en Bengali die grootste taal in Indië. Daar word geskat dat dit deur 91,9 miljoen mense gepraat word. Op die oomblik is daar sowat 6 000 verkondigers in die veld waar Teloegoe gepraat word, maar die totale bywoningsyfer vir die streekbyeenkoms was 8 868. Dit wys dat daar baie mense in die Teloegoe-veld is wat die waarheid leer. Daar is al reeds hierdie jaar twee nuwe Teloegoe-kringe gevorm.

Dit het vyf jaar gevat om die Nuwe Wêreld-vertaling in Teloegoe te vertaal. Een van die vertalers sê dat ander Bybels in Teloegoe baie moeilik vir jongmense is om te verstaan omdat hulle baie moeilike en ou woorde in die Bybel gebruik. Die vertaler het gesê: “Wanneer jongmense die Nuwe Wêreld-vertaling lees, sal dit wees asof Jehovah met hulle praat deur direkte en moderne woorde te gebruik wat hulle maklik kan verstaan.” ’n Ander vertaler het gesê: “Die mense in die veld sal die tekste nou maklik kan verstaan wanneer ons dit vir hulle by die deur lees.”

Omdat God se naam, Jehovah, in die meeste Bybels in Teloegoe oral uitgehaal is, sal die Nuwe Wêreld-vertaling die lesers help om die naam van God die Almagtige te ken. Dit sal lesers ook help om die oorspronklike betekenis van terme te verstaan, soos siel en gees, wat ander Teloegoe-Bybels op ’n manier vertaal het wat met die Hindoe-geloof ooreenstem.

Een verkondiger het gesê: “Ek dink dat die Teloegoe-Bybel lesers sal help om beter te verstaan dat Jehovah baie lief is vir hulle!” Die nuwe vertaling in die Teloegoe-taal sal lesers beslis help om te “ondervind en sien . . . dat Jehovah goed is”. – Psalm 34:8.