Spring na inhoud

INDIË

Oorsig van Indië

Oorsig van Indië

Jehovah se Getuies is al sedert 1905 in Indië. Hulle het in 1926 ’n kantoor in Bombaai (nou Moembaai) geopen en is in 1978 wetlik geregistreer. Die Getuies vind baat by Indië se grondwetlik gewaarborgde regte, wat die reg insluit om ’n mens se geloof te beoefen, te bely en te bevorder. Hulle wetlike oorwinning in die belangrike saak Bijoe Emmanuel teen die staat Kerala in die Hooggeregshof van Indië het die grondwetlike vryhede van alle burgers bevorder. Jehovah se Getuies beoefen gewoonlik hulle aanbidding onverhinderd in Indië. Maar in party state was hulle al slagoffers van aanvalle deur oproerige skares en ander dade van godsdiensonverdraagsaamheid.

In 1977 het die Hooggeregshof ’n onderskeid getref tussen die verkondiging van ’n mens se geloof en die bekering van ander. Dit het gesê dat niemand die reg het om iemand anders te bekeer nie en dat die wette teen bekering wat party state bekragtig het, geldig is. Wanneer diegene wat die Getuies aanval, deur die polisie ondervra word, verwys hulle dikwels na wat die hof gesê het en beweer hulle valslik dat hulle die Getuies betrap het terwyl hulle mense bekeer. In state wat nie wette teen bekering het nie, beskuldig teenstanders die Getuies van lastering deur ’n wet uit die koloniale tyd verkeerdelik op die openbare predikingswerk van Jehovah se Getuies toe te pas. Gevolglik was Jehovah se Getuies sedert 2002 die teiken van meer as 150 gewelddadige aanvalle deur oproerige skares. Plaaslike owerhede dra dikwels by tot die probleem omdat hulle nie die slagoffers goed genoeg beskerm of die aanvallers vervolg nie.

Jehovah se Getuies in Indië gaan voort om met staatsamptenare te vergader en die howe te versoek om hulle reg te beskerm om hulle godsdiens vryelik te beoefen. Die Getuies hoop dat plaaslike owerhede en individue in ooreenstemming met die Hooggeregshof se woorde in die Bijoe-saak sal optree: “Ons tradisie leer verdraagsaamheid; ons filosofie verkondig verdraagsaamheid; ons grondwet beoefen verdraagsaamheid; laat ons nie daarvan afwyk nie.” Die Getuies hoop dat hulle pogings ’n einde sal maak aan die aanvalle deur oproerige skares en ’n klimaat van godsdiensverdraagsaamheid sal bevorder.