Spring na inhoud

11 NOVEMBER 2014
INDIË

’n Mylpaalbeslissing deur Indië se Hooggeregshof bevorder al byna 30 jaar vryheid van spraak

’n Mylpaalbeslissing deur Indië se Hooggeregshof bevorder al byna 30 jaar vryheid van spraak

Vir drie kinders in ’n dorpie in Kerala, in die suidwestelike streek van Indië, het 8 Julie 1985 soos enige ander skooldag begin. Maar op hierdie dag het die skoolhoof beveel dat die volkslied “Jana Gana Mana” in die klaskamer gesing moet word. Almal moes opstaan en sing. Maar die 15-jarige Bijoe en sy sussies, Binu Mol (13) en Bindu (10) het nie die opdrag gehoorsaam nie. Aangesien hulle Jehovah se Getuies is, het hulle gewete hulle nie toegelaat om te sing nie omdat hulle opreg glo dat dit ’n vorm van afgodediens en ’n daad van ontrouheid teenoor hulle God, Jehovah, sal wees.

V.J. Emmanuel, die kinders se pa, het met die skoolhoof en senior onderwysers gepraat, en hulle almal het ingestem om die kinders toe te laat om skool toe te gaan sonder dat hulle die opdrag hoef te gehoorsaam. Maar ’n werknemer by die skool het toevallig die gesprek gehoor en die saak gerapporteer. Uiteindelik het ’n lid van die Wetgewende Vergadering daarvan te hore gekom, en hy het die saak onder die aandag van die Vergadering gebring omdat hy gevoel het dat die kinders se gedrag onpatrioties is. Kort daarna het ’n hooggeplaaste skoolinspekteur die skoolhoof beveel om die kinders te skors tensy hulle instem om die volkslied te sing. Mnr. Emmanuel het die skoolowerheid tevergeefs versoek om sy kinders weer by die skool te aanvaar. Hy het ’n geskrewe versoek by die hoë hof van Kerala ingedien. Nadat die hof teen hom beslis het, het hy by die Hooggeregshof van Indië appèl aangeteken.

Hooggeregshof handhaaf grondwetlike regte

Op 11 Augustus 1986 het die Hooggeregshof die beslissing van die hoë hof van Kerala nietig verklaar in die saak Bijoe Emmanuel v. State of Kerala. Die Hof het beslis dat die skorsing van die kinders op grond van hulle opregte godsdiensoortuigings in stryd is met die Grondwet van Indië. Regter O. Chinnappa Reddy het gesê: “Daar is geen wetsbepaling ... wat enigiemand verplig om te sing nie.” Die Hof het gesê dat die reg op vryheid van spraak en vrye meningsuiting ook die reg insluit om stil te bly en dat dit gepaste respek getoon het om vir die volkslied te staan. Die Hof het die skoolowerheid beveel om die kinders weer by die skool te aanvaar.

Regter Reddy het gesê: “Hulle [Jehovah se Getuies] sing nêrens die volkslied nie, hetsy ‘Jana Gana Mana’ in Indië, ‘God save the Queen’ in Brittanje, ‘The Star-Spangled Banner’ in die Verenigde State of die volkslied in enige ander land. ... Hulle weier om te sing bloot omdat hulle opreg oortuig is dat hulle godsdiens hulle nie toelaat om aan enige rituele deel te neem wat nie met hulle aanbidding van Jehovah hulle God verband hou nie.”

Hofsaak stel ’n regspresedent vir godsdiensregte

Bijoe Emmanuel v. State of Kerala is ’n baie betekenisvolle hofsaak, want dit bevestig dat niemand wetlik verplig kan word om in stryd met sy opregte godsdiensoortuigings op te tree nie. Hoewel die Hof erken het dat basiese regte nie onvoorwaardelik is nie en dat dit onderworpe is aan die openbare orde, sedelikheid en gesondheid, het dit die Staat se vermoë beperk om ongegronde en onredelike beperkings op sy burgers te plaas. Die beslissing het gesê: “Om alle leerders te dwing om die volkslied te sing al laat party se opregte godsdiensoortuigings hulle nie toe om dit te doen nie, ... is beslis in stryd met die regte wat deur Artikel 19(1)(a) en Artikel 25(1) [van die Grondwet van Indië] gewaarborg word.”

Die beslissing beskerm ook die grondwetlike vryhede van minderheidsgroepe. Die Hof het verder gesê: “Onder ’n ware demokrasie moet selfs onbeduidende minderheidsgroepe hulle identiteit onder die land se Grondwet kan vind.” Regter Reddy het bygevoeg: “Ons persoonlike beskouings en reaksies is onbelangrik. As die oortuiging opreg is, verdien dit die beskerming van Artikel 25 [van die Grondwet].”

“Ons tradisie leer verdraagsaamheid; ons filosofie verkondig verdraagsaamheid; ons grondwet beoefen verdraagsaamheid; laat ons nie daarvan afwyk nie.”—Regter O. Chinnappa Reddy

Die uitwerking van die beslissing op die samelewing

Bijoe Emmanuel v. State of Kerala het ’n welbekende hofsaak geword en is in die Parlement bespreek. Die beslissing is deel van die leerplan in regsfakulteite wanneer die staatsreg bestudeer word. Regstydskrifte en koerantartikels verwys nog steeds daarna as ’n beroemde mylpaalbeslissing en as ’n presedent van verdraagsaamheid in Indië. Die beslissing het grootliks daartoe bygedra om godsdiensvryheid in ’n pluralistiese samelewing te definieer. Dit beskerm vryheid van spraak en vrye meningsuiting in Indië wanneer hierdie waardevolle reg ook al bedreig word.

Die beskerming van grondwetlike regte strek almal tot voordeel

Die Emmanuel-gesin vandag (agterste ry, van links na regs) Binu, Bijoe en Bindu; (voorste ry) V.J. Emmanuel en Lillykutty

Destyds is die Emmanuel-gesin bespot, deur die owerhede onder druk geplaas en selfs met die dood gedreig, maar hulle is nie spyt dat hulle by hulle godsdiensoortuigings gebly het nie. Bindu, een van die dogters wat nou getroud is en self ’n kind het, vertel: “Tot my verbasing het ek ’n regsgeleerde ontmoet wat my saak ondersoek het toe hy in die regte gestudeer het. Hy het groot waardering uitgespreek vir die regstryd wat Jehovah se Getuies gevoer het om menseregte te beskerm.”

V.J. Emmanuel vertel: “Ek het onlangs regter K.T. Thomas, ’n afgetrede regter van die Hooggeregshof, ontmoet. Toe hy uitvind dat ek die pa van die drie kinders in die volkslied-hofsaak is, het hy my geluk gewens en gesê dat hy altyd oor die volkslied-saak praat wanneer hy ’n geleentheid kry om ’n vergadering van regsgeleerdes toe te spreek, want volgens hom was dit ’n deurslaggewende oorwinning vir menseregte.”

Byna 30 jaar ná die beslissing is Bijoe Emmanuel v. State of Kerala een van die fondamentstene van vryheid van spraak in Indië. Jehovah se Getuies is bly dat hulle tot die grondwetlike vryhede van alle burgers van Indië bygedra het.