Spring na inhoud

Die Tunbonat-gesin, insluitende die drie kinders, wat 7, 10 en 12 jaar oud is en uit die skool geskors was

30 OKTOBER 2019
INDONESIË

Hof in Indonesië beskerm godsdiensvryheid van skoolkinders

Hof in Indonesië beskerm godsdiensvryheid van skoolkinders

Op 8 Augustus 2019 het die administratiewe hof van Samarinda ten gunste van drie kinders beslis wat uit die skool geskors is omdat hulle geweier het om die vlag te salueer of om die volkslied te sing. Die hof het gesê dat die kinders nooit geskors moes geword het nie en dat hulle weer toegelaat moet word om skool toe te gaan. Hierdie uitspraak wys dat ouers in Indonesië volgens wet die reg het om hulle godsdiens vir hulle kinders te leer en dat die kinders nie gestraf kan word omdat hulle gehoorsaam is aan hulle ouers se godsdiensoortuigings nie.

Yonatan, Yosua en Maria Tunbonat, wat 7, 10 en 12 jaar oud is, is in Desember 2018 geskors. Maar die administratiewe hof het erken dat die kinders nie enige wet, insluitende die Grondwet, gebreek het toe hulle geweier het om die vlag te salueer en die volkslied te sing nie. Die hof het ook gesê dat die kinders nie disrespekvol was teenoor die land se tradisies of embleme nie.

Ons is bly dat die hof se uitspraak die kinders se oortuigings wat op die Bybel gebaseer is, respekteer en hulle toelaat om weer skool toe te gaan. Ons hoop dat hierdie uitspraak ook ander Getuie-kinders in Indonesië sal help wat deur dieselfde uitdagings by die skool gaan.