Spring na inhoud

21 FEBRUARIE 2020
ISRAEL

Hebreeuse Geskrifte vrygestel by ’n spesiale geleentheid in Israel

Hebreeuse Geskrifte vrygestel by ’n spesiale geleentheid in Israel

’n Pa en ma saam met hulle twee kinders is baie bly om die nuwe vrystelling te kry

“Die Bestuursliggaam het ’n spesiale geskenk vir julle voorberei.” Dit is hoe broer Geoffrey Jackson, ’n lid van die Bestuursliggaam, sy toespraak begin het toe hy die Nuwe Wêreld-vertaling van die Hebreeuse Geskrifte in moderne Hebreeus vrygestel het. Altesaam 2 125 mense het die spesiale geleentheid bygewoon wat gehou is op 11 Januarie 2020 by die Romema-arena in Haifa, Israel.

Broer David Simozrag, wat in die Openbare Inligtingsafdeling in Israel werk, het gesê: “Daar word geskat dat daar meer as agt miljoen mense in ons streek is wat Hebreeus praat. Ons dink dat die Tanakh a in moderne Hebreeus ’n belangrike boek is wat almal in ons gemeenskap kan help.” Hierdie nuwe vrystelling is onder die min moderne vertalings wat vandag beskikbaar is vir Hebreeuse lesers.

Die Nuwe Wêreld-vertaling is nou in sy geheel of gedeeltelik in 186 tale beskikbaar. Net soos die Masoretiese kopiiste, het ons broers wat deel was van die Hebreeuse vertaalspan, hard gewerk om die Bybel se boodskap akkuraat oor te dra. Dit het die span meer as drie jaar gevat om hierdie moderne vertaling te voltooi. Een van die vertalers het vertel: “Baie Hebreeuse lesers moes staatmaak op kommentare of vertalings in ander tale om spesifieke verse of selfs hele boeke van die Bybel te verstaan. Hierdie Bybel help lesers vandag om die betekenis van Bybelverse makliker te verstaan.”

’n Gesin hou die nuwe vrystelling van die Hebreeuse Geskrifte in moderne Hebreeus vas

Een broer het gesê: “Vir jare kon die gewone leser baie dele van die Tanakh nie verstaan nie, maar nou kan hy die boodskap duidelik en akkuraat verstaan.” Ons kan seker wees dat die 603 Hebreeussprekende verkondigers onder die meer as 2 000 verkondigers in die gebied van die takkantoor in Israel hierdie spesiale geskenk sal gebruik “om die Wet van Jehovah te raadpleeg en om te doen wat dit sê”. – Esra 7:10.

a In Hebreeus word die Hebreeuse Geskrifte gewoonlik anders gerangskik as in die meeste Bybels. Hulle word gegroepeer in drie dele: die Tora (Wet), die Nevi’im (Profete) en die Ketuvim (Geskrifte). Die woord Tanakh bestaan uit die eerste letters van die name van hierdie drie dele. Die moderne Hebreeuse vrystelling volg ook hierdie groepering van boeke.