Spring na inhoud

Die appèlhof in Rome

7 FEBRUARIE 2020
ITALIË

Appèlhof in Rome ondersteun ouers se reg om bloedlose mediese behandeling vir hulle kinders te kies

Appèlhof in Rome ondersteun ouers se reg om bloedlose mediese behandeling vir hulle kinders te kies

Op 17 Desember 2019 het die appèlhof in Rome ’n uitspraak verwerp deur ’n jeughof. Daardie hof het ’n suster se seun van haar af weggeneem omdat sy geweier het dat dokters ’n bloedoortapping vir hom gee. Die appèlhof het nie net die suster se seun vir haar teruggegee nie, maar het ook gesê dat sy onskuldig is. Die uitspraak stel ’n belangrike voorbeeld vir toekomstige hofsake. Dit sal help om seker te maak dat Getuie-ouers nie toesig oor hulle kinders verloor omdat hulle bloedlose mediese behandeling vir hulle kies nie.

Die hofsaak het begin nadat een van ons susters en haar tien-jarige seun in ’n karongeluk was. Die kind het seergekry en is na die hospitaal toe geneem. Drie dae later het die dokters gereël dat hy vir ’n operasie moet gaan. Ons suster het die dokters toestemming gegee om aan haar seun te opereer en om hom al die behandelings te gee wat hy nodig het. Maar sy het verduidelik dat sy nie toestemming gee vir bloedoortappings nie. Hoewel die seun nie in enige gevaar was nie, het die hospitaal vir die staatsaanklaer geskryf. Die hospitaal het nie saamgestem met die suster se besluit wat op haar godsdiensoortuigings gebaseer is nie. Hulle het gesê dat haar besluit nadelig is vir die kind. Die staatsaanklaer het ons suster daarvan aangekla dat sy nie haar seun se beste belange op die hart dra nie, en die jeughof gevra om haar reg om besluite vir haar seun te maak, weg te neem. Die jeughof het ten gunste van die staatsaanklaer beslis al laat die wet nie toe dat hierdie hof sulke tipe uitsprake gee nie. Daarom het die suster die uitspraak by die appèlhof geappelleer.

Die appèlhof het gesê dat ons suster ’n goeie ma is wat mooi kyk na haar kind. Die hof het beslis dat dit “nie regverdig is om te sê dat sy nie vir haar kind sorg net omdat sy haar godsdiensoortuigings volg en nie toegelaat het dat hy ’n bloedoortapping kry nie”. Die hof het die suster se seun vir haar teruggegee en het gesê dat dit onwettig vir die jeughof was om hom van haar weg te neem.

Nicola Colaianni, ’n voormalige raadgewer van die Hooggeregshof van Hersiening en ’n professor in kerkreg by die Universiteit van Bari, het gesê: “Ek stem saam met die uitspraak van die appèlhof. Ek is teleurgesteld in die uitspraak wat die jeughof in hierdie geval gegee het. Dit lyk asof dit baie moeilik vir meeste mense is om ware godsdiensvryheid te hê en selfs moeiliker vir Jehovah se Getuies.”

Broer Christian Di Blasio, wat by die Kantoor vir Openbare Inligting in Italië werk, verduidelik: “Ons dank die appèlhof in Rome omdat hulle ’n uitspraak verander het wat gemaak was op grond van godsdiensvooroordeel. Jehovah se Getuies gee baie om vir hulle kinders, en hulle is regtig dankbaar teenoor die dokters wat uitstekende behandeling gee en nog steeds hulle Christelike gewete respekteer.”

Hierdie hofuitspraak bevestig net weer dat ons broers en susters die reg het om ingeligte besluite te maak oor hulle kinders se gesondheidsorg. Ons dank ons God, Jehovah, vir hierdie oorwinning in die hof wat ons mede-aanbidders sal help wanneer hulle mediese besluite maak wat nie hulle gewete skend of teen die Bybel gaan nie. – Psalm 37:28.