Spring na inhoud

Die Paleis van Justisie in Rome, waar Italië se Hooggeregshof is

1 OKTOBER 2019
ITALIË

Italiaanse Hooggeregshof bevestig ouers se reg op gelykheid van godsdiensopvoeding

Italiaanse Hooggeregshof bevestig ouers se reg op gelykheid van godsdiensopvoeding

Op 30 Augustus 2019 het die Hooggeregshof in Rome ’n belangrike uitspraak gegee oor ouers se regte in ’n saak wat gaan oor die toesig van ’n kind. Die uitspraak deur Italië se hoogste hof het die reg van ’n ma, wat een van Jehovah se Getuies is, bevestig om haar godsdiensoortuigings aan haar minderjarige kind te leer.

Die pa is nie ’n Getuie nie en hy en die kind se ma is nie meer bymekaar nie. Hy dring daarop aan dat die kind net oor sy godsdiens geleer moet word. Twee laer howe het ten gunste van die pa beslis en gesê dat dit die kind sal “verwar” as hy oor ’n ander godsdiens geleer word. Hierdie uitsprake maak dit vir die ma moeilik om haar seun oor haar godsdiensoortuigings te leer al het sy hierdie reg. Die Hooggeregshof het die laer howe se uitsprake verwerp en die reg van die minderjarige bevestig om ’n “gelyke verhouding met albei ouers” te hê. Die Hof het ook beklemtoon dat alle godsdienste “gelyke respek voor die hof” moet hê en het die “diskriminasie” teen Jehovah se Getuies deur die laer howe veroordeel. Volgens hierdie uitspraak het ’n regter nie die reg om te besluit watter godsdiens beter is wanneer ouers nie saamstem oor die godsdiensopvoeding van hulle kinders nie.

Ons hoop dat hierdie uitspraak deur die Hof ’n voorbeeld sal wees vir sake in Italië wat in die toekoms oor die toesig van ’n kind gaan. Dit sal ouers beslis help wat hard probeer om hulle kinders in die “dissipline en riglyne van Jehovah” groot te maak. – Efesiërs 6:4.