Spring na inhoud

Een van die nuwe woongeboue by die Italiaanse takkantoor in Bologna. Dit bestaan uit 41 woonstelle. Hulle het op 5 September 2020 begin intrek

16 NOVEMBER 2020
ITALIË

Projek om takkantoor in Italië te trek vorder ondanks uitdagings

Projek om takkantoor in Italië te trek vorder ondanks uitdagings

Ondanks ekonomiese en gesondheidskrisisse vorder die projek om die Italiaanse takkantoor van Jehovah se Getuies na die stad Bologna te trek. Op 5 September 2020 het die projek ’n hoogtepunt bereik toe die eerste woongebou voltooi is. Daar word beplan dat die nuwe takkantoor teen die einde van 2023 voltooi sal wees.

’n Bouprojekkomitee van vyf broers hou toesig oor die werk vir die nuwe takkantoor. ’n Maatskappy is gehuur om hierdie woongebou te ontwerp en te bou. Hulle het in September 2018 hieraan begin werk.

In 2019 het ’n ernstige ekonomiese krisis baie plaaslike maatskappye getref. As gevolg hiervan moes die maatskappy ophou met die werk en dinge herorganiseer. Gelukkig was die struktuur van die woongebou reeds klaar, en daarom het die werk nie lank stilgestaan nie.

Hoe ’n woonstel aan die binnekant lyk

Aan die begin van 2020 het die COVID-19-pandemie die noorde van Italië getref, insluitende Bologna. Die plaaslike en nasionale owerhede het baie bedrywighede in die stad gestop, insluitende bouprojekte. Maar ná ’n maand het die owerhede party beperkings gelig en die werk kon voortgaan in ooreenstemming met gesondheidsriglyne en ons organisasie se veiligheidsmaatreëls vir COVID-19.

Broer Paolo Comparato, ’n lid van die Bouprojekkomitee, vertel: “Ons sê dankie vir Jehovah dat hierdie gebou voltooi is. Sonder sy gees sou ons nooit al die uitdagings kon oorkom wat ons gehad het nie.”

Mev. Cristina Dallacasa, die direkteur van die konstruksiemaatskappy wat gehuur is, sê: “Ons is bly dat Jehovah se Getuies ons gekies het om een van hulle belangrikste geboue in Italië te bou. Ons werk saam as ’n span, en dit het ons gehelp om al die probleme op te los wat ons gedurende die bouprojek gehad het. Jehovah se Getuies vat hulle projekte ernstig op, veral wanneer dit kom by die veiligheid van die mense wat op die bouterrein werk.” Sy sê verder: “Ek is veral bly dat ek ’n groep eerlike en betroubare mense ontmoet het. In hierdie tyd van maatskaplike en ekonomiese krisisse is dit baie aanmoedigend.”

Ons is daarvan oortuig dat Jehovah sal aanhou om die projek te ondersteun sodat dit eer op sy naam sal bring. – Psalm 127:1.