23 MEI 2018
ITALIË
Universiteit van Padua hou ’n belangrike konferensie om vordering in bloedlose mediese sorg te bespreek
ROME — Op Vrydag 24 November 2017 het geleerdes op mediese, bio-etiese en regsgebiede by die Universiteit van Padua bymekaargekom. Dit is een van die oudste universiteite in Italië. Die konferensie se tema was: “Volwasse pasiënte wat bloedoortappings weier: Watter opsies is daar om hulle te behandel? — Spaar bloed 2017.” Die konferensie is deur 25 Italiaanse wetenskapverenigings en -organisasies sowel as die Italiaanse Departement van Gesondheid geborg.
Oor die algemeen word bloedoortappings as iets goeds beskou, en dit word gesien as die enigste lewensreddende mediese behandeling vir pasiënte wat ingewikkelde mediese of chirurgiese prosedures ondergaan. Baie van die sprekers by die konferensie het gesê dat hulle nie met hierdie beskouing saamstem nie. Een van die geleerdes wat daar was, dr. Luca P. Weltert, ’n kardiotorakale chirurg by die Europese Hospitaal in Rome, het verduidelik: “Ons het vandag gesien dat bloedoortappings nadelig kan wees en in baie gevalle nie nodig is nie.”
Dr. Weltert en ander dokters wat op die program was, het tot hierdie gevolgtrekking gekom as gevolg van hulle persoonlike ondervinding in die behandeling van pasiënte. Daar is ook bewyse uit wetenskaplike studies wat vasgestel het dat bloedoortappings gekoppel word aan meer sterftes en gevalle van siekte, hoe lank die pasiënt in die hospitaal moet bly en ander ernstige gesondheidsgevare vir mense wat bloedoortappings gekry het. a
“Ons het vandag gesien dat bloedoortappings nadelig kan wees en in baie gevalle nie nodig is nie.” — Dr. Luca Weltert, kardiotorakale chirurg, Europese Hospitaal, Rome
Sulke wetenskaplike bewyse en die feit dat bloedoortappings so baie geld kos, het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) in 2010 laat besef dat daar ’n behoefte is aan ’n beleid oor die pasiënt se bloed (PBM). Dit is ’n soort pasiëntversorging wat alle mediese gebiede insluit en dit fokus op pasiënt- en gesondheidsveiligheid, die beste resultate in operasies en die verminderde gebruik van bloedoortappings. Die WGO het ’n resolusie aan al 193 lidlande van die Verenigde Nasies voorgelê waarin hulle gevra het dat die beleid oor die pasiënt se bloed (PBM) toegepas moet word.
Professor Stefania Vaglio, die hoof van oortappingsgeneeskunde by die Sant’Andrea-universiteitshospitaal, Rome, het in detail die nuwe manier bespreek waarop mediese personeel die beleid oor die pasiënt se bloed (PBM) beskou. Hy het gesê dat mediese sorg voorheen afhanklik was van die behandeling en gee van skenkerbloed, maar nou “word daar meer op die pasiënt se eie bloed gefokus en nie meer op skenkerbloed nie”. Een van die doelwitte van die beleid oor die pasiënt se bloed (PBM) is “om te sorg dat die pasiënt so min as moontlik bloed verloor deur die pasiënt die middelpunt van die proses te maak, . . . en alles moontlik te doen om seker te maak dat die pasiënt nie bloed verloor nie”. Professor Vaglio het ook gesê dat die mediese tegnieke om die pasiënt se eie bloed te bewaar, “beteken eintlik beter gehalte behandeling”.
Dr. Tommaso Campagnaro, ’n algemene chirurg by die Universiteitshospitaal van Verona, het die voordele daarvan bevestig om strategieë te volg wat bloedoortappings vermy. Hy het inligting ontleed oor pasiënte wat die ingewikkeldste buikoperasies gekry het, en hierdie inligting het sover terug as die laat 1990’s gegaan. Hy het tot die slotsom gekom: “Die pasiënte wat nie bloedoortappings gekry het nie, het minder komplikasies gehad, en daar was ’n laer sterftesyfer in vergelyking met dié wat bloedoortappings gekry het.”
“Die pasiënte wat nie bloedoortappings gekry het nie, het minder komplikasies gehad, en daar was ’n laer sterftesyfer in vergelyking met dié wat bloedoortappings gekry het.” — Dr. Tommaso Campagnaro, algemene chirurg, Universiteitshospitaal van Verona
Dr. Campagnaro, saam met ’n hele paar ander sprekers by die konferensie, het Jehovah se Getuies openlik bedank omdat hulle vir dokters ’n rede gegee het om alternatiewe behandeling te ontwikkel in plek van bloedoortappings. Anna Aprile, ’n medeprofessor van mediese wetgewing by die Universiteit van Padua, het gesê: “Ons sê dankie vir Jehovah se Getuies omdat hulle die kwessie oor die reg om oortappings te weier, na vore gebring het. Hulle help almal om oor hierdie kwessie te dink en om die uitdaging te aanvaar om minder bloed te gebruik.”
“Ons sê dankie vir Jehovah se Getuies omdat hulle die kwessie oor die reg om oortappings te weier, na vore gebring het . . .” — Anna Aprile, ’n medeprofessor van mediese wetgewing, Universiteit van Padua
Die sprekers by die konferensie het verskillende mediese gebiede verteenwoordig soos anestesiologie, kardiologie, ginekologie, bloedkunde, onkologie en ortopedie. Maar die boodskap wat die sterkste oorgekom het, was dieselfde. Die mediese institute en organisasies, wetgewers en mense oor die algemeen moet almal bereid wees om die strategieë wat te doen het met die beleid oor die pasiënt se bloed (PBM) te aanvaar. Veral omdat daar al hoe meer gepubliseerde inligting en ondervindinge van geleerdes op hierdie gebied beskikbaar is.
Dr. Weltert voeg by: “Die grootste operasie wat jy op ’n menseliggaam kan doen, is wanneer die aorta deur middel van chirurgie reggemaak word. . . . As [dit] sonder bloed gedoen kan word, dan kan enigiets gedoen word.”
Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000
a By die konferensie is daar byvoorbeeld verwys na ’n onlangse studie wat in Wes-Australië gedoen is en in ’n bekende tydskrif oor oortappingsgeneeskunde, Transfusion, gedruk is. Die navorsers van die studie het die resultate beskryf van ’n grootskaalse program wat ses jaar lank geduur het. Die doel van die program is om ’n omvattende gesondheidstelsel in plek te sit wat die beleid oor die pasiënt se bloed toepas. Hulle het inligting van 605 046 pasiënte deurgegaan wat opgeneem is in vier groot tersiêre hospitale vir volwassenes. Die gebruik van bloedprodukte het met 41 persent gedaal gedurende hierdie periode. Gedurende hierdie selfde periode was daar ’n 28 persent vermindering in sterftes in die hospitaal. Die algemene lengte van pasiënte se hospitaalverblyf was 15 persent korter, daar was ’n 21 persent vermindering in die hoeveelheid infeksies wat in die hospitaal gekry is en ’n 31 persent vermindering in die gevalle van hartaanvalle en beroertes. Die toepassing van die beleid oor die pasiënt se bloed (PBM) word gekoppel aan beter resultate vir die pasiënt, minder bloedprodukte en laer koste.