2 DESEMBER 2016
ITALIË
Beamptes in Italië maak plek vir “Koninkryksaal” in die tronk en verduidelik voordele wat dit vir gevangenes inhou
ROME—Beamptes van ’n tronk in die dorpie Bollate, 15 kilometer noord van Milaan, het erkenning gegee aan die positiewe gemeenskapsdiens wat Jehovah se Getuies verrig. Hulle het ’n groot kamer beskikbaar gestel wat net deur die Getuies gebruik kan word as ’n “Koninkryksaal”, of plek van aanbidding.
Die direkteur van die tronk, dr. Massimo Parisi, sê dat die Bollate-tronk gebou is met die doel om gevangenes te rehabiliteer: “Een van ons doelwitte is om seker te maak dat mense weer hoop kry, en ons gebruik verskillende maniere om dit te doen. Geestelikheid is belangrik.” Jehovah se Getuies is vir die afgelope 13 jaar toegelaat om gratis Bybelstudies met gevangenes te hou. Dr. Parisi beskryf die resultate: “[Die] Getuies werk al jare lank saam met ons, en hulle Bybelonderrigtingswerk het party gevangenes gehelp om positiewe veranderinge in hulle lewe te maak. . . . Daarom het ons gedink dat dit ’n goeie idee is om ’n plek aan die Getuies beskikbaar te stel. Hulle kan dit gebruik om gevangenes te help om hulle volle potensiaal te bereik.” Oor die afgelope paar maande was daar by twee geleenthede meer as 100 gevangenes wat die Getuies se dienste bygewoon het.
Christian Di Blasio, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Italië, sê: “Ons is bly dat die beamptes by die Bollate-tronk die inisiatief geneem het om ons te help deur vir ons ’n plek van aanbidding binne die tronk se mure te gee. Ons sien daarna uit om verder saam met hulle te werk en in gevangenes se geestelike behoeftes te voorsien deur middel van ons Bybelonderrigtingsprogram.”
Mediaverteenwoordigers:
Internasionaal: David A. Semonian, Office of Public Information, 1-718-560-5000
Italië: Christian Di Blasio, 39-06-872941
Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000