Spring na inhoud

21 OKTOBER 2016
ITALIË

Die Getuies se kampanje bring vertroosting ná ’n aardbewing in Italië

Die Getuies se kampanje bring vertroosting ná ’n aardbewing in Italië

ROME—Gedurende September 2016 het Jehovah se Getuies ’n uitgawe van Die Wagtoring versprei wat oor vertroosting gegaan het. Die voorbladreeks met die titel “Waar kan jy vertroosting vind?” was die hoofonderwerp van die Getuies se wêreldwye kampanje. Die Getuies het ’n spesiale poging aangewend om vertroosting uit die Bybel te bied in Sentraal-Italië. Op 24 Augustus 2016 is die streke van Lazio, Marche en Umbria deur ’n geweldige aardbewing van 6,2 getref waarin sowat 300 mense gesterf het en meer as 2 000 mense se huise verwoes is.

Christian Di Blasio, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Italië, sê: “Die doel van hierdie wêreldwye kampanje was om vertroosting te bied aan mense in alle lande en met verskillende omstandighede. Maar hier in Italië het ons veral gefokus op die slagoffers van die aardbewing sowel as die noodlenigingswerkers.

Jehovah se Getuies praat met ’n slagoffer in die dorp Amatrice, waar die aardbewing die meeste slagoffers geëis het.

Alhoewel daar 15 gemeentes van Jehovah se Getuies in die rampgebied is, is geen Getuies dood of ernstig beseer nie. Maar drie van die Getuies se huise is vernietig en ander se huise is beskadig. Mnr. Di Blasio het gesê dat selfs party Getuies wie se huise beskadig is, hulle bure gaan vertroos het met behulp van die tydskrif. En Getuies wat ’n vorige aardbewing oorleef het, het aangebied om met slagoffers te praat. Mnr. Di Blasio sê: “Die vrywilligers het gesê dat die Bybel se boodskap ’n positiewe en vertroostende invloed op hulle lewens gehad het. Hulle wil graag soveel as moontlik doen om hierdie vertroosting te deel met ander in die gemeenskap wat swaarkry.”

Mediaverteenwoordigers:

Internasionaal: David A. Semonian, Office of Public Information, 1-718-560-5000

Italië: Christian Di Blasio, 39-06-872941

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000