Spring na inhoud

Die Paleis van Justisie in Rome, waar Italië se Hooggeregshof van Hersiening is

18 JULIE 2019
ITALIË

Italiaanse Hooggeregshof ondersteun Jehovah se Getuies se reg om besluite te maak oor mediese behandeling

Italiaanse Hooggeregshof ondersteun Jehovah se Getuies se reg om besluite te maak oor mediese behandeling

Op 15 Mei 2019 het die Hooggeregshof van Hersiening van Italië, die hoogste hof in die land, ons broers se reg ondersteun om te besluit watter soort mediese behandeling hulle wil hê. Die Hof het bevestig dat ’n pasiënt die reg het om ’n gesondheidsorgverteenwoordiger te kies wat sy besluit om bloedoortappings te weier, sal ondersteun. Die Hof het ook bevestig dat die Italiaanse wet dit moontlik maak dat jy ’n gesondheidsorgverteenwoordiger wetlik kan aanstel. Dit is moontlik selfs al is die persoon op die punt om bewusteloos te word of as hy nie self besluite kan neem as gevolg van sy gesondheid nie.

Broer en suster Cappelli

Hierdie beslissing is geneem as gevolg van ’n reeks hofsake waarby ’n ouerman, broer Luca Cappelli, betrokke is. Vir die afgelope 25 jaar ly hy as gevolg van abnormale bloedvate in die brein. Broer Cappelli se toestand vereis nie net ’n hele paar mediese prosedures nie, maar dit veroorsaak ook dat hy soms nie kan praat nie. Voor sy behandelings het hy seker gemaak dat hy ’n Advance Medical Directive-kaart ingevul het en het hy sy vrou, Francesca, as sy gesondheidsorgverteenwoordiger gekies. Maar ’n regter en ’n appèlhof het geweier dat sy vrou sy gesondheidsorgverteenwoordiger kan wees. Dit beteken dat broer Cappelli geen manier gehad het om seker te maak dat hy nie ’n bloedoortapping kry nie.

Op 16 Februarie 2017 het broer Cappelli se saak na die Hooggeregshof van Hersiening gegaan. Die Hooggeregshof het beslis dat die laer howe die Italiaanse grondwet en die Europese Konvensie oor Menseregte geskend het, wat albei die pasiënt se reg om sy eie keuses te maak, beskerm. Die Hof het gesê dat wanneer ’n pasiënt sekere mediese behandeling as gevolg van sy geloof weier, dit selfs belangriker is om sy reg te beskerm en te waarborg. As gevolg van die Hooggeregshof se beslissing word daar nou van Italiaanse howe vereis om groter respek te hê vir ons broers se reg om bloedoortappings te weier.

Ons is bly saam met ander Getuies van Jehovah regoor die wêreld dat die Hooggeregshof opgetree het om die regte van ons broers in Italië te beskerm. Hierdie broers hou aan om hulle Bybelopgeleide gewete in verband met die gebruik van bloed te volg. – Handelinge 15:29.