Spring na inhoud

Die staatsaanklaer se kantoor en die hof van Termini Imerese in Sisilië, Italië.

22 AUGUSTUS 2018
ITALIË

Hof in Sisilië bevestig dat Jehovah se Getuies reg het om self oor mediese behandeling te besluit

Hof in Sisilië bevestig dat Jehovah se Getuies reg het om self oor mediese behandeling te besluit

Op 6 April 2018 het die hof van Termini Imerese in Sisilië, Italië, beslis dat ’n chirurg volgens die wet aanspreeklik is omdat hy ’n bloedoortapping afgedwing het op ’n vrou wat een van Jehovah se Getuies is. Die chirurg is beveel om haar 10 000 euro as skadevergoeding te betaal, en nog 5 000 euro aan haar man, wat ook een van Jehovah se Getuies is. Volgens die hof in Italië het elke persoon die reg om te besluit wat met sy liggaam gebeur op grond van sy godsdiensoortuigings. Die hof het beslis dat die dokter krimineel opgetree het toe hy hierdie reg geskend het. Dit is die eerste keer dat ’n Italiaanse hof ’n dokter so straf.

Nadat hierdie suster in Desember 2010 vir ’n galblaas-operasie gegaan het, was daar komplikasies. Al het sy oor en oor bloedprodukte geweier, is sy fisies vasgehou en ’n oortapping van rooibloedselle is op haar afgedwing. Haar chirurg het gelieg en gesê dat ’n magistraat hom toestemming gegee het.

Later het sy en haar man ’n kriminele klag by die staatsaanklaer se kantoor gelê. Die hof het beslis dat as ’n Getuie van Jehovah ’n volwassene is en in staat is om besluite te maak, ’n dokter nie vir die persoon ’n bloedoortapping mag gee as hy of sy dit nie wil hê nie.

Die hof het ook gesê dat die grondwet van Italië dokters verbied om pasiënte behandeling te gee wat hulle nie wil hê nie al sê die dokter dat die behandeling nodig is. Volgens die hof se beslissing kan ’n dokter nie hierdie verskoning gebruik as die pasiënt duidelik gesê het dat hy regtig nie die behandeling wil hê nie.

Daniele Rodriguez is ’n professor in Regsgeneeskunde en Bio-etiek aan die Universiteit van Padua en was ’n deskundige getuie in die saak. Hy het in sy mediese verslag oor die saak gesê dat die Italiaanse grondwet en ander wette duidelik die reg om ’n spesifieke mediese behandeling te weier, beskerm. Artikel 32 van die Italiaanse grondwet sê dat niemand gedwing kan word om mediese behandeling te aanvaar tensy die wet spesifiek so sê nie. Luca Benci is ’n Italiaanse deskundige oor die wet, veral op die gebied van regsgeneeskunde. Hy het in die mediese nuusblad Quotidiano Sanità oor die saak se beslissing geskryf: “Daar is geen wet wat ’n dokter die reg gee om ’n bloedoortapping op ’n pasiënt af te dwing nie. Die reg om behandeling te weier, is belangriker as enigiets anders.”

Marcello Rifici, een van die regsgeleerdes vir Jehovah se Getuies, sê: “Ons is bly om te sien dat hierdie beslissing in lyn is met Europese standaarde. Party van hierdie standaarde is deur die Europese Hof van Menseregte uiteengesit. Hierdie standaarde maak dit duidelik dat alle pasiënte die reg het om te besluit watter behandeling hulle bereid is om te aanvaar. Interessant genoeg, in 2017 het die Italiaanse parlement die wet 219/2017 gemaak, wat bekend staan as die ‘Lewende Testament-wet’, en dit beklemtoon dieselfde beginsels as hierdie beslissing.”

Lucio Marsella, ook ’n regsgeleerde vir Jehovah se Getuies, sê: “Die hof se beslissing sal al die moedige dokters beskerm wat baie hard probeer om hulle pasiënte die beste behandeling te gee terwyl hulle respek het vir die pasiënt se reg om self te besluit watter behandeling hulle bereid is om te aanvaar.”