22 NOVEMBER 2017
ITALIË
Vlugtelinge in Europa se grootste tydelike kamp vir immigrante word deur Jehovah se Getuies verwelkom
ROME — Die grootste vlugtelingkamp in Europa is in die dorp Mineo (Cara di Mineo), op die Italiaanse eiland Sisilië. Duisende immigrante van meer as 40 lande soos Eritrea, Nigerië, Somalië en Sirië het na die kamp gevlug vir hulle veiligheid.
Oor die afgelope vyf jaar het Jehovah se Getuies die kamp besoek (prentjie hierbo) om gratis Bybelonderrigting te bied aan almal wat belangstel. Met die noue samewerking van die Cara di Mineo-administrasie is ’n bus, wat 50 passasiers kan vervoer, gereël vir die vlugtelinge wat die godsdiensvergaderinge van die Getuies wil bywoon. Van toe af het baie meer vlugtelinge elke week na die Koninkryksaal (plek van aanbidding) begin gaan. Me. Ivana Galanti onderdirekteur van die Cara di Mineo-kamp vertel van haar ondervinding met Jehovah se Getuies: “Ek moet sê ek erken en waardeer die werk wat hulle doen en aanhou doen vir ons besoekers. Ek dink dit is vir die vlugtelinge ’n vertroostende ondervinding om [deur Jehovah se Getuies] verwelkom te word veral omdat hulle in hierdie onbekende omgewing is en omdat hulle moes vlug van hartseer, selfs verwoestende omstandighede.”
Humphrey Osagiede, ’n Nigeriese man wat in 2011 by die kamp aangekom het, het die Bybel saam met die Getuies begin studeer en is later op 23 November 2014 gedoop. Hy sê: “Die Bybel het my lewe regtig verander. Ek het ophou dwelms gebruik en nie meer onsedelik gelewe nie. Toe ek daar aangekom het, het die Getuies my op ’n praktiese en geestelike manier gehelp. Ek wil ook dankie sê vir die mense wat in beheer is van die kamp omdat hulle vervoer gereël het sodat ons godsdiensvergaderinge van Jehovah se Getuies kan bywoon.” Mnr. Osagiede bly en werk nou in Palermo, Italië. Hy geniet dit om dieselfde Bybelboodskap wat hom gehelp het, aan ander te vertel, insluitende vlugtelinge.
Christian Di Blasio, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Italië, sê: “Ons hoofdoel is om mense te help om te verstaan wat die Bybel leer. Omdat ons saam met die personeel by die Cara-kamp werk, het ons die geleentheid om vir vlugtelinge Bybelonderrigting te gee. Hierdie onderrigting help met baie van hulle geestelike en emosionele behoeftes.”
Mediaverteenwoordigers:
Internasionaal: David A. Semonian, Office of Public Information, +1-845-524-3000
Italië: Christian Di Blasio, +39-06-872941
Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000