24 APRIL 2017
JAPAN
Getuie-vrywilligers herstel meer as 300 huise ná aardbewings in Japan
EBINA, Japan—Jehovah se Getuies in Japan het herstelwerk voltooi aan 348 huise van medegelowiges. Die huise is beskadig in die aardbewings wat Koemamoto, Japan, op 14 en 16 April 2016 getref het. Omtrent 15 000 vrywilligers het van Julie 2016 tot Maart 2017 deelgeneem aan die noodlenigings-bouprojek.
Hoewel geen Getuies in die aardbewings dood is nie, moes omtrent 119 Getuies uit hulle huise vlug. Hulle is aanvanklik gehuisves in 15 Koninkryksale, plekke van aanbidding van Jehovah se Getuies, terwyl vrywilligers opruimingswerk by die beskadigde huise gedoen het.
Op 25 Julie 2016 het Getuie-konstruksiewerkers begin om krake in die huise reg te maak. Hulle het ook vloere, mure, dakke en waterpype van die huise wat deur die aardbewings beskadig is, herstel. Deure, vensters en lugversorgingseenhede is ook vervang.
Mnr. Minoroe Kono, ’n voormalige beampte van Japan se Verdedigingsmag wat gesien het hoe die Getuies hulle noodlenigingswerk doen, het gesê: “In die werk wat ek doen, is vinnige optrede noodsaaklik om lewens te red. Dit is presies wat Jehovah se Getuies gedoen het ná die Koemamoto-aardbewing. Hulle het dadelik na die rampgebied gegaan om slagoffers te help. Toe die Getuies met hulle noodlenigings-bouprojek begin het, was ek verbaas om te sien dat dit opgeleide konstruksiewerkers van regoor Japan was wat gekom het om met die herstelwerk te help. Die Getuie-vrywilligers is regtig toegewyd en baie hardwerkend.”
Itjiki Matsoenaga, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Japan, het gesê: “Oor die afgelope paar maande was ons besig om van die ramp te herstel en ook te herbou, net soos duisende ander slagoffers van die Koemamoto-aardbewing. Die praktiese hulp wat ons medegelowiges ons ná die ramp gegee het, het ons regtig vertroos en versterk.”
Mediaverteenwoordigers:
Internasionaal: David A. Semonian, Office of Public Information, +1-845-524-3000
Japan: Ichiki Matsunaga, +81-46-233-0005
Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000