Spring na inhoud

22 SEPTEMBER 2015
KANADA

Amptenare in verafgeleë Noord-Kanada bedank Jehovah se Getuies vir spesiale Bybelonderrigtingskampanje

Amptenare in verafgeleë Noord-Kanada bedank Jehovah se Getuies vir spesiale Bybelonderrigtingskampanje

TORONTO—Ongeveer 150 van Jehovah se Getuies het in September en Oktober 2014 aan ’n spesiale Bybelonderrigtingskampanje deelgeneem wat deur die takkantoor van Jehovah se Getuies in Kanada gereël is. Reëlings is getref om 35 afgesonderde gemeenskappe regoor die land te besoek.

Meer as 32 000 mense woon in die 35 Innuïet-gemeenskappe wat deur die Getuies besoek is, soos aangedui word deur die geel merkers. Die kampanje het oor twee gebiede en ’n provinsie gestrek, soos aangedui in groen.

Die Getuies is in groepe georganiseer en aangewys om dorpe en nedersettings te besoek, van Aklavik in die Noordwestelike Gebiede tot by Kangiqsualujjuaq, Quebec, in die ooste. Dit is ’n gebied wat oor meer as 3 300 kilometer strek. Almal wat aan hierdie kampanje deelgeneem het, het hulle eie reiskoste gedek, en in party gevalle het vliegkaartjies duisende dollars per persoon beloop.

Een van die dorpe wat die Getuies besoek het, was Paulatuk. Dit het ’n bevolking van sowat 300 en is geleë aan die kus van die Beaufortsee, in die noorde van die Noordwestelike Gebiede.

Voor die kampanje het die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies die vertaling van die video Waarom moet jy die Bybel studeer? in Inoektitoet goedgekeur. Hierdie Innuïet-taal word deur sowat 35 000 mense in Kanada gepraat en word as die amptelike taal in Nunavut en die Noordwestelike Gebiede erken.

Me. Velma Illasiak, ’n skoolhoof in Aklavik, het die volgende oor die besoek van die Getuies gesê: “Die studente het julle aanbieding baie geniet en dink nog daaroor . . . Ons oorweeg dit om Deel 1 en 2 van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk vir elke tiener in die skool te kry . . . Ons bedank julle vir julle besoek aan ons skool en aan ons gemeenskap.”

Nadat mnr. Peter Iyaituk, die burgemeester van die dorp Ivujivik in die noorde van Quebec, met die Getuies gepraat het en na die video Waarom moet jy die Bybel studeer? gekyk het, het hy die besoekers twee uur lank in sy motor deur die gemeenskap geneem. Hy het hulle ook lughawe toe geneem toe hulle moes vertrek en hulle bedank vir hulle besoek.

David Creamore, een van Jehovah se Getuies, wys die video Waarom moet jy die Bybel studeer? vir mnr. Peter Iyaituk, die burgemeester van Ivujivik.

Matthieu Rozon, die woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Kanada, sê: “Jehovah se Getuies bied graag vir almal gratis Bybelonderrigting aan. Almal wat aan die kampanje deelgeneem het, het gevoel dat dit beslis die tyd en inspanning werd was.”

Gedurende die twee maand lange ekspedisie het die Getuies meer as 37 000 stukke lektuur versprei. Byna 600 persone het gevra dat die Getuies hulle weer besoek om hulle Bybelbesprekings voort te sit.

Mediaverteenwoordiger(s):

Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Kanada: Matthieu Rozon, tel. +905 873 4100

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000

 

Kuujjuarapik-lughawe, Quebec

’n Groep Getuies kom aan in Kuujjuarapik, ’n dorp op die oostelike kant van die Hudson-baai.

Salluit, Quebec

Salluit is in noordelike Quebec geleë en het meer as 1 300 inwoners.

Ivujivik, Quebec

Ivujivik is ook in noordelike Quebec geleë en het ’n bevolking van byna 400.

Ivujivik, Quebec

Mnr. Peter Iyaituk wys vir David Creamore die dorp.

Ivujivik, Quebec

’n Jong Innuïet kyk na die video Waarom moet jy die Bybel studeer?

Paulatuk, Noordwestelike Gebiede

Huise in hierdie dorpie van sowat 300 mense is gebou op ’n dun landstrook wat in die Beaufortsee instrek.

Umiujaq, Quebec

’n Innuïet-egpaar nooi Julien Pinard, een van die besoekende Getuies, by hulle huis in vir ’n Bybelbespreking. Die dorp het ’n bevolking van byna 450.

Umiujaq, Quebec

Plaaslike inwoners in hierdie dorp in noordelike Quebec neem ’n foto saam met Roxanne Pinard (regs), een van die besoekende Getuies.

Puvirnituq, Quebec

Daar is sowat 1 700 inwoners in hierdie nedersetting in noordelike Quebec.