Spring na inhoud

Links: Militêre Hof van die Republiek van Kazakstan. Kleiner foto’s: Kopieë van die uitsprake op November 2023 en April 2024 oor gewetensbeswaar in Kazakstan

31 MEI 2024
KAZAKSTAN

Belangrike uitspraak bevestig die reg op gewetensbeswaar in Kazakstan

Belangrike uitspraak bevestig die reg op gewetensbeswaar in Kazakstan

Op 23 Mei 2024 het ’n uitspraak oor gewetensbeswaar as gevolg van ’n persoon se geloofsoortuiging in Kazakstan in werking getree. Die uitspraak het te doen met die 20-jarige broer Daniil Smal. Die regter het sy saak as “buitengewoon” beskryf.

’n Jaar tevore, op 17 Mei 2023, moes Daniil voor die streek se militêre kantoor verskyn. Hy het op ’n respekvolle manier sy persoonlike geloofsoortuigings verduidelik. Daniil het ook vir die militêre offisiere ’n amptelike dokument gegee wat wys dat hy kwalifiseer om vrygestel te word van militêre diens op grond van sy godsdiensoortuigings. Maar die militêre offisiere het sy versoek vir vrystelling afgekeur en hom weermag toe gestuur. Die volgende dag het die owerhede Daniil gedwing om per trein na ’n militêre fasiliteit sowat 2 000 kilometer van sy tuisdorp Rudny te reis. Gedurende hierdie moeilike tyd het hy lojaal aan Jehovah gebly deur nie ’n militêre eed af te lê nie, nie ’n uniform te dra nie en nie opleidingsoefeninge te doen nie. Daniil het ’n hele paar amptelike klagtes ingedien, maar niks het verander nie. Daarom het hy hulp by sy land se regstelsel gesoek met die hoop dat hulle die saak sal oplos. Dit het gelei tot verhore wat drie maande lank aangehou het.

Broer Daniil Smal staan buite die Militêre Hof van die Almaty-garnisoen in November 2023

Uiteindelik, op 9 November 2023, het die Militêre Hof van die Almaty-garnisoen beslis dat Daniil se diensplig onwettig uitgevoer is. In sy uitspraak het die hof verklaar: “[Daniil] se verpligte militêre diens was teen sy godsdiensoortuigings wat hy duidelik uiteengesit het. Sy godsdiensoortuigings laat hom nie toe om militêre diens te doen nie. En die diensplig het sy reg op vryheid van gewete en godsdiens geskend.” Die hof het ook beveel dat Daniil vrygelaat word uit die militêre eenheid waar hy ses maande aangehou is.

Kort ná die hof se uitspraak het die militêre owerhede appèl aangeteken. Maar op 16 April 2024 het die Militêre Hof van die Republiek van Kazakstan, die land se hoogste militêre hof, die laer hof se uitspraak bevestig. Hierdie belangrike uitspraak wat op 23 Mei 2024 in werking getree het, het aangehaal uit die internasionale wet en die Grondwet van Kazakstan, wat burgers se reg op vryheid van gewete waarborg. Die hof het duidelik gesê: “Onder geen omstandighede het die staat die reg om ’n persoon te dwing om teen sy gewete op te tree nie.”

Dit is die eerste keer dat ’n hof in Kazakstan reguit erken dat ’n persoon die reg het om militêre diens op grond van sy godsdiensoortuiging te weier. Broer Lev Gladyshev, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Kazakstan, sê: “Ons is dankbaar dat die hof Daniil se wetlike reg op gewetensbeswaar duidelik erken. Hierdie uitspraak skep ’n belangrike voorbeeld vir toekomstige sake wanneer basiese menseregte in Kazakstan en Sentraal-Asië beskerm moet word.” – 1 Timoteus 2:1, 2.